Taalmonument se ‘Skerpskryf in Afrikaans’ bied duisende rande vir Drakenstein-leerders

Hoe knap kan jy vanuit Engels na Afrikaans vertaal? Want die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se tiende ‘Skerpskryf in Afrikaans’ – ’n skeppende skryfkompetisie vir graad 7-, 10-, 11- en 12-leerders van Drakenstein – is die perfekte plan vir maklike kontant in die hand. Inskrywings is boonop gratis, dus deelnemers kan net wen.

Die kompetisie word aangebied in samewerking met die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en die Hugenote Gedenkskool in Dal Josafat buite die Paarl. In 1883 was die gedenkskool die eerste skool in Suid-Afrika waar Afrikaans amptelik as onderrigmedium aangewend is.

Deelname is maklik en tot voordeel van elke leerder wat in Afrikaans skryf. Die finaliste en hul onderwysers sal genooi word na ʼn prysoorhandiging by die Hugenote Gedenkskool op Saterdag, 23 Oktober 2021, waar hulle ook sal deelneem aan ’n werksessie met bekende skrywers, joernaliste en blogskrywers oor die vele aspekte van skryf in Afrikaans.

Daar is twee kategorieë, een vir alle Graad 10-, 11- en 12-leerders in Drakenstein en een vir graad 7-leerders van landelike skole in Drakenstein. Deelnemers moet een van die verskafte Engelse leesstukke wat oor woordeboeke handel kies en dit na Afrikaans vertaal. Hulle word aangemoedig om (aanlyn)woordeboeke te gebruik om op ʼn skeppende wyse die beste woorde en sinsbou vir die vertaling aan te wend.

Leerders én skole kan ʼn hele paar pryse wen, so sit skouer aan die wiel!

Die algehele hoërskoolwenner kry R1 000 kontant asook ’n R1 000-koopbewys vir Afrikaanse boeke. Die twee wenners in die skeppende en taalkundige afdelings wen elk R500 kontant asook ’n R500-koopbewys vir Afrikaanse boeke. Die drie wenners se skole ontvang ook elk ’n koopbewys van R500 vir Afrikaanse boeke. Die algehele laerskoolwenner kry R500 en die eerste twee naaswenners R300 en R200 elk. Al drie wen ook ’n boek as prys. Die persone wat die wen-inskrywings aangemoedig het sowel as die onderwysers wat die meeste inskrywings instuur, ontvang elk R500. Voorts borg die WAT ook elektroniese woordeboeke vir die wenskole.

Leerders kan by hul Afrikaansonderwysers uitvind hoe om in te skryf of op www.taalmonument.co.za kyk. Wenners van die vorige jare kan weer inskryf, maar sal nie in aanmerking kom vir pryse nie. Inskrywings moet teen 20 Augustus 2021 ingehandig word by Janine Brown in die Taalmuseum te Pastorielaan 11, Paarl. Vir navrae en elektroniese inskrywings, kontak haar op 021 872 3441 of opvoeding@taalmuseum.co.za.

Vir verdere inligting oor geleenthede, (aanlyn-)kursusse en Covid-19-protokolle, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin (tans aangebied teen ʼn 20%-afslag), wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.

DIE TAALMONUMENT EN TAALMUSEUM IS OOP VIR BESOEKERS – TANS GRATIS TOEGANG VIR KINDERS ONDER 18