Ter viering van Internasionale Moedertaaldag in Februarie, het die Afrikaanse Taalmuseum en -monument ’n driedaagse program aangebied vir die graad 11-leerders van Hoërskool Cloetesville, Hoërskool Kylemore en Hoërskool Wellington om die bewustheid van taal- en kulturele verskeidenheid asook veeltaligheid te bevorder.

Dr Willa Boezak was die gasspreker en het deur ’n interaktiewe aanbieding met die leerders oor taalregte en die taalverskeidenheid van die land gepraat. Rymkletser Janine Overmeyer, beter bekend as Blaqpearl, het die program met haar inspirerende gedigte afgesluit.

Boezak het sy doktorsgraad in Geesteswetenskap aan die Universiteit van Kaapstad verwerf en was ’n dosent by die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy het gedien as voorsitter van die Wes-Kaapse Kultuurkommissie en bied die afgelope vyf jaar sy Naelstringlesings oor die Khoi-San aan. Hy is ’n navorser, skrywer, motiveringspreker en kunsskilder.

This slideshow requires JavaScript.