Tandpyn is ‘n nare ding.  In die ou dae is die lastige tand getrek of die pyn is behandel met boererate wat nie altyd bo verdenking was nie. So is aanbeveel dat pypolie aangesmeer of bruin skoenpolitoer gesmeer word op die wang waar die tand pyn… Nog ‘n aanbeveling was om brandwewyn op ‘n lappie te sit en dit vas te byt. Dalk sou dit beter wees om laasgenoemde te drink!

Volgens Boererate.com werk die volgende rate baie goed: “Naeltjies is natuurlike pynstillers omdat dit anti-inflammatoriese, antibakteriële, anti-oksidant en narkotiese eienskappe het, wat help om tandpyn te verlig en infeksie te veg.  Plaas ʼn stukkie watte in ʼn bietjie naeltjie-olie en sit dit op die seer tand om die tandvleis te verdoof.

“ʼn Glas warm soutwater kan help met die behandeling van tandpyn. Meng ʼn halwe teelepel gewone sout in ʼn glas baie warm water en gebruik dit om jou mond deeglik mee te spoel. Wanneer die oplossing in kontak kom met die seer tand, sal dit vloeistof uit die weefsel onttrek, en swelling en drukking op die senuwees verminder. Dié soutmengsel sal ook bakterieë veg wat infeksie veroorsaak.

“Ys is ook ʼn pynstiller omdat die koue die senuwees en tandvleis verdoof. Neem ʼn ysblokkie draai dit toe in ʼn dun katoenlappie. Plaas dit op die wang naby die seer tand vir ʼn paar minute. Ys kan ook direk op die tand gesit word, maar wees versigtig vir ingeval die senuwees blootgestel is. Die koue van die ys kan dan meer pyn veroorsaak.

“Spoel die mond kort-kort uit met pepermentolie. Uie het antiseptiese en antimikrobiese eienskappe wat die kieme doodmaak wat infeksie veroorsaak. Deur ʼn stukkie rou uie vir ʼn paar minute te kou of om selfs net die stukkie ui op die seer tand te plaas, kan verligting vir tandpyn bring.”

Volgens oorlewering is tandeborsels deur die Chinese uitgevind wat eers geurige takkies gekou het om hul asem te verfris en later tandeborsels gemaak het uit varkhare gemonteer op hout- of bamboeshandvatsels. Die Egiptenare het stokkies geneem, die punte uitgerafel en dit dan gebruik om hul tande skoon te maak. Hulle het sout, kruisement, peper en gedroogte irisblomme gemeng om ʼn poeier te vorm waarmee die tande skoongemaak is.

Toe die idee van tandeborsels Europa bereik het, is die varkhare met sagter perdehare vervang. Die eerste redelik moderne tandeborsel is vanaf 1780 in Engeland met ʼn beenhandvatsel en varkhare gemaak. In die 1800’s is meer moderne tandepasta ontwikkel en in 1824 was ‘n tandarts, ene dr Peabody, die eerste persoon wat seep bygevoeg het in die mengsel. John Harris het kalk as ‘n bestanddeel vir tandepasta in die 1850’s bygevoeg. In 1873 het Colgate die eerste tandepasta in ‘n pot geproduseer. In 1892 het dr Washington Sheffield van Connecticut tandepasta vervaardig in ‘n opvoubare buis. In 1914 is fluoride by tandepasta gevoeg.

Bronne:
Wikipedia
Mieliestronk.com
Boererate.com