ʼn Pragtige Chinese sytjalie in die Afrikaanse Taalmuseum

Die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl beskik oor ʼn klein tekstielversameling waarin daar onder meer drie historiese sytjalies en twee sysakdoeke voorkom.

Dit was kledingstukke wat meestal deur vrouens oor die skouers, nek of kop gedra is; destyds kon dit inligting weergee oor die draer se sosiale stand, ouderdom en ook aandui of die persoon in rou was. Tjalies kan vierkantig, driehoekig of langwerpig wees en was onder meer van wol, sy, pels, katoen en kant gemaak.

Maar waar kom die woord ‘tjalie’ vandaan? Die Afrikaanse woord is van die Portugese woord ‘xaile’ afkomstig. (Ander Portugese woorde wat in Afrikaans beslag gevind het, sluit onder meer ‘tronk’, ‘kraal’, ‘bredie’ en ‘mielie’ in.) Die Engelse woord vir ʼn tjalie is ‘shawl’; dit is afkomstig van die 14de-eeuse Persiese woord ‘shal’,’ item wat wydversprei in die antieke tye was.

Van sywurm tot Syroete tot seeroete

Die geskiedenis van sy is die Ooste en in Europa het ʼn lang en interessante geskiedenis. Sy is ʼn delikate produk wat gemaak word van die proteïenvesels van die sywurm se kokon. Vanaf ongeveer 2700 VHJ (voor huidige jaartal) het dit gebruik en as ʼn baie waardevolle produk beskou. Die geheim van sy se oorsprong is vir byna 3 000 jaar dig gehou en die openbaarmaak daarvan was met die dood strafbaar. Die Chinese het ver en wyd handel gedryf met syprodukte – tot in Egipte, Noord-Mongolië en elders.

In die 1ste eeu VHJ het dit onder die Romeinse Ryk se aandag gekom waar dit as ʼn weeldeartikel geskou is. Die kennis van syvervaardiging het mettertyd versprei na Japan, Indië en Persië asook teen 500 HJ (huidige jaartal) na die Weste. Teen die 800’s was die syvervaardiging bekend aan die hele Klein-Asië vanwaar dit na Afrika, Spanje, Portugal en Italië versprei het. Frankryk het reeds in die 1300’s syprodukte vervaardig en Engeland in die 1500’s.

Sy is grootliks langs die Syroete via land versprei, maar teen 1405 het té veel aanvalle hierdie handelsroete tussen Europa en China tot stilstand gebring. Ottomaanse Turke het hierna die handelsroete na die Midde-Ooste beheer, maar Europa se behoefte aan sy en speserye het die dryfveer van hul soeke na ʼn alternatiewe, seeroete na die Ooste geword.

Tyd van die tjalies

Die tydperk vanaf 1800 tot 1870 staan as die “tyd van die tjalies” bekend omdat vroue in Europa, Amerika en elders – danksy ʼn opbloei in die belangstelling in Indië asook die Midde- en Verre Ooste – tjalies saam met amper alle soorte klere gedra. Aan die begin van die 1900’s was tjalies ook gewild omdat vroueklere dun en hul bolywe gedeeltelik ontbloot was. Sierlike tjalies van wol en sy was ook algemeen in Suid-Afrika tydens hierdie periodes.

Die gewildste Oosterse tjalies van die 1800’s was afkomstig uit die Kasjmirvallei in Indië en is van die fyn vag van Sentraal-Asiatiese bergbokke gemaak. Die woorde ‘shal’ en ‘pashmina’ (algemeen in die Weste gebruik vir Kasjmir) kom van Kasjmir, maar het hul oorsprong gehad in Hamadan in Iran.

Kasjmir was egter ʼn baie belangrike gebied in Indië, want kennis, produkte en rykdom het hierdeur beweeg na die res van die wêreld. Dit is dus hier wat die pragtige Kasjmir-tjalies reeds teen die 1000’s van wol en sy vervaardig en versprei is. Teen die 1400’s/1500’s het Sentraal-Asië ook op ʼn groot skaal toegetree tot die mark.

Winterwol in die lente

Van die patrone op die tjalies was gestileerde weergawes van appels, pere, kersiebloeisels, plantaanboomblare, rose, tulpe, amandels en voëls. Die duurste tjalies is ‘shantoosh’ (“die koning se wol”) genoem en is van die vag onder die maag van Sentraal-Asiatiese (Tibettaanse) bergbokke gemaak. Die wol is geskik vir uiterste koue toestande en is verkry nadat die bokke tydens die lente hul winterwol afgeskuur het teen bosse, vanwaar dit versamel en na Kasjmir geneem is.

Vanaf 1775 is Kasjmir-tjalies deur reisigers, verkenners, militêre personeel en die amptenare van Oos-Indiese Kompanjie bekom. Hulle was uiters duur, dus spoedig het Europese vervaardigers die pragtige eksotiese en delikaatgeweefde tjalies gekopieer en goedkoper weergawes gemaak. Vanaf die laat 1700’s en vroeë 1800’s (neoklassieke tydperk) was dit hoogmode om dun, noupassende moeselienrokke met ‘n Kasjmir-tjalie te dra. Die tjalies was onder meer roomkleurig, met ‘n versierde band onderaan.

Teen 1808 is die eerste Paisley tjalies in Paisley, Skotland, vervaardig – ʼn item wat vir meer as ʼn honderd jaar baie gewild was. Vanaf 1840 tot 1875 is tjalies baie groter as voorheen om sodoende oor die hoepelrokke te pas. Die punte van die tjalies is bo, vooraan die rok, vasgemaak met tjalie- of borsspelde. In die 1800’s was Chinese sytjalies was ook gewild; teen 1820 was sytjalies met borduurwerk en fraiings in Europa en die Amerikas beskikbaar. Hulle was bekend as China crêpe shawls of China shawls. 

Die pragtige handgemaakte tjalies het mooi borduurwerk gehad wat blomme, voëls, skoenlappers en blare uitbeeld het, en die sykante was macramé-vlegwerk van sy met fraiings. Die geel sytjalies is baie skaars, want geel is selde gebruik en was slegs vir die uitvoermark bestem waar vroue dit oor hul skouers drapeer het of oor hul meubels gehang het.

Teen die 1870’s het modes verander en was tjalies nie meer so gewild nie – nes modes deesdae ook kom en gaan.

ʼn Pragtige Chinese sytjalie in die Afrikaanse Taalmuseum

Bronne:

Encyclopeadia Brittanica

Greenelephantcollection.com

Mieliestronk

Textilesart.com

Victoria en Albert-Museumversameling