Tag Archives: teleskope

Wuif totsiens vir Saturnus by ikoniese Taalmonument

Sterrekykpiekniek vier nuwe maankoning van die sonnestelsel

Kapenaars en besoekers kan hierdie November die skitterende sterre en planete – spesifiek die nuwe maankoning van ons sonnestelsel, Saturnus – van nader leer ken tydens ʼn lentepiekniek op Paarlberg op Saterdag, 23 November 2019. Dit beloof om weereens ʼn feestelike aand in die beeldskone omgewing te wees; boonop is ʼn pragtige sonsondergang en ʼn gratis begeleide toer van die ikoniese beeldhouwerk ingesluit én is die aand ten bate van ʼn goeie saak.

Besoekers kan die sterrehemel verken met behulp van Orion Observasie Groep (OOG) se lede wat graag hul kennis en teleskope gratis deel. Die fokus is op Saturnus wat met sy 82 mane (waarvan 20 onlangs ontdek is) pas vir Jupiter (met 79 mane) onttroon het as die planeet met die meeste natuurlike satelliete wat rondom dit wentel. Hierdie planeet is vir oulaas sigbaar in November, dus kom bewonder en groet hom tot volgende keer.

Die pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners en oorsese besoekers wat veral die mooie vergesigte van die valleie, berge en skiereiland geniet. Die tema is ‘Kom ons wuif vir Saturnus totsiens’ en die piekniek begin om 18:00. Die begeleide toer van die monument is om 18:30 en besoekers kan van 20:00 tot 22:30 deur die teleskope na die hemelruim tuur. Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies te bring of een vooraf te bestel (R300 vir twee persone of R400 met ʼn mandjie ingesluit) by die koffiewinkel op 021 863 2800. Dit sal ook oop wees vir koffie en ligte verversings asook pizza. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Onthou asseblief verkykers en warm kleding. Besoekers word aangemoedig om die omgewing te verken en daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmonument se geletterdheidsprojek vir kinders, derhalwe word piekniekgangers versoek om nuwe of tweedehandse kinderboeke ter ondersteuning van dié projek te skenk. Die toegangsprys is R50 per volwassene en R10 per kind; kaartjies is by Computicket of die hek beskikbaar, maar bespreking (021 863 0543/4809) is noodsaaklik sodat daar vir genoeg teleskope voorsiening gemaak kan word. Sterrekykpieknieks sal helaas gekanselleer word indien die weer sleg is – skakel 073 853 3100 of 083 544 6510 vir weernavrae.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument (wat in 45 jaar in 2020 vier), skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die volgende Sterrekykpieknieks is op 21 Desember, 18 Januarie 2020, 22 Februarie en 21 Maart.

Naskrif: Daar is tans ʼn kompetisie om die nuutontdekte mane van Saturnus name te gee. Neem deel by https://carnegiescience.edu/NameSaturnsMoons en kyk of jou naam dit maak!

Sterre in jou oë?

As jy nog nie een van hierdie pragtige, gesellige aande op Paarlberg meegemaak het nie, is dit binnekort jou kans. Boonop is daar gratis teleskope en raad oor wat gesien kan word. En as jy reeds ‘n sterrekykpiekniek beleef het, bring hierdie keer ander vriende saam. Hou www.taalmonument.co.za en ons FB-blad dop vir besonderhede.