Tag Archives: Afrikaans

Language museum closed on Wednesday, 20 November 2019

Language museum closed on Wednesday, 20 November 2019. Thank you
See www.taalmonument.co.za

Taalmuseum gesluit op Woensdag, 20 November 2019

 

Taalmuseum gesluit op Woensdag, 20 November 2019. Taalmonument wel oop, soos gewoonlik. Dankie
Sien www.taalmonument.co.za

#OnseFees by die Taalmonument

Kom makietie en vier diversiteit by #OnseFees!

Vir die eerste keer kan feesgangers uitsien na die #OnseFees wat op 6 tot 8 Desember by die Taalmonument in die Paarl aangebied word. Van ’n interessante taalgesprek, ’n verskeidenheidsprogram, die ATKV-Rieldansfinaal tot die Groet-is-’n-moet-ete en -konsert en nog vele meer – hierdie is ’n fees wat jy beslis nie moet misloop nie.

Program:

’n Propvol program wag op feesgangers tydens die #OnseFees.

Laai die program hier af. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

Vir meer inligting besoek https://atkv.org.za/neem-deel/feeste/onsefees/ of kontak vir Bjorn Pick by 021 880 1761 of by bjornp@atkv.org.za.

 

Noord-Kaapse spookstories – Wat sluip in die donker rond?

Die spoke
By nag, as die liggies alleen in die lug
Hul wag oor die wêreld hou,
As binne die huise die mense lê slaap,
Verskuil teen die knyp van die kou,
En elke veldbossie, verdroog deur die son,
Verlang na die eersteling-dou,

Dan wandel die spoke die wêreld in
En soek hul verlore rus.
Die ene die dink dis sy vader se hand
As die maanlig sy hare kus;
En die ander die dink dis sy moeder haar stem
As die boomgeruis hom sus.

Gedos in die drag van die dodeland,
In slepende mis-gewaad
Van vaal, verlepte seegras groen,
Smarag wat die see versmaad –
En die maanlig gooi daar ‘n gordel om,
‘n Ketting van silwerdraad -,

Kom algar die spoke die wêreld in
En kuier oor vlakte en vlei,
En dool verlate in kloof en dal
Om weer hulle rus te kry,
En kerm en kreun teen die sware las
Waaronder die spoke ly.

Met lippe wat beef soos die wilgerblaar
As water die wilgertak was;
Met hande so koud as die winterkors
Wat pryk op ‘n waterplas,
En ‘n grys-verbleekte aangesig,
Geel soos verskroeide gras;

Met oë wat nooit geen mens kan sien,
Wat nooit geen mens bespeur,
Verdof deur die trane wat spoke ween
Wat lank in die spookland treur,
Met ‘n waas rondom van ‘n ander land,
Wat ruik soos blommegeur,

Kom elke spook die wêreld in
By die lig van die lae maan,
En probeer te praat met die mense hier,
Waar niemand die taal verstaan
Van die afgeleefde lewenstyd,
Al eeuelank vergaan,

Ja, lank voor die spinnekop oor die veld
Sy dou-bepêrelde spinnerak spin,
Dan kuier die spoke hier hand aan hand,
Om weer hul verlore rus te win,
Met bewende lippe die vlakte rond,
Met bleke wange die wêreld in.

C Louis Leipoldt

 

Vanaf 2008 het die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) ʼn mondelinge oorleweringsprojek in die Noord-Kaap onderneem en is talle verhale opgeteken, waaronder immergewilde spookstories. Hierdie verhale is op die ATM se YouTube-kanaal te hore, maar wat is ʼn spook nou eintlik?

Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal is dit “ʼn gees van ʼn afgestorwene wat aan lewendes verskyn; vreesaanjaende verskyning wat hom meestal snags openbaar; skim…Iets wat vrees verwek; waandenkbeeld; hersenskim…Skrikbarende iets; skrikbeeld…Lelike mens(!)”. Volgens die Verklarende Afrikaanse Woordeboek is ʼn spook “ʼn bonatuurlike, gewoonlik nagtelike en angswekkende verskyning, gees van afgestorwene wat aan lewendes sou verskyn, dwaalgees; hersenskim, denkbeeldige bedreiging of gevaar; iets wat vrees verwek, geheimsinnige gedaante”.

Die geloof in spoke is ʼn kenmerk van meeste kulture. Daar is baie tipes spoke, soos afgelei kan word uit verskillende tipes spookstories. Die oorsprong van die oortuiging dat spoke bestaan is te vinde in die geloof dat die mens se siel en liggaam van mekaar geskei kan word en dat die siel oorleef. Die spoke van volksverhale is nie-stoflike wesens wat oor menslike eienskappe beskik en bonatuurlike vermoëns het. Volgens die ou Griekse opvatting van die doderyk was dit maar ʼn donker, vreugdelose plek: “hier het die dooies floutjies rondgefladder terwyl hulle soos vlermuise piep”. Orpheus, wat glo die doderyk besoek en weer terug gekeer het aarde toe, het verklaar: “Indien ʼn mens sy hande met moord bevlek, word hulle geeste…wat gedoem is om drie maal tienduisend jaar ver weg van die geseëndes te dwaal.” Die ou Germane het robuuste spookgedaantes gehad waarvan Wodan of Odin asook die hellewa se jaagtog met die ses- of agtpotige perd Sleipnir die bekendste is.

Die Romeine het spoke as rustelose siele van oorledenes beskou. Volgens die Romeinse oortuigings, soos beskryf deur die skrywers Plinius en Plutargus, het spoke vernaam snags by grafte verskyn. Veral spoke van vermoordes het hul moordenaars geteister. So het die spook van Keiser Caracalla se vermoorde broer hom gepla; ook het die spook van Agripinna, die vermoorde moeder van Keiser Nero, gereeld aan hom verskyn. Dit was vir die Romeine belangrik om die geeste van die oorledenes te paai; dit is onder meer gedoen deur begrafnisse ingevolge sekere Romeinse tradisies te voltrek. Tydens die Fees van Lemoeralië (van Latyns ‘lemures’ = gieriges of geeste van gestorwenes) op 9, 11 en 13 Mei het huisvaders teen middernag opgestaan, kaalvoet uit die huis gegaan en buite hul vingers geklap om sodoende die spoke te verdryf. Daarna moes hulle hul hande in skoon fonteinwater was en swart bone in hul mond plaas en dan die bone agter hul gooi. Hulle moes dié prosedure nege keer herhaal.

Verskillende kulture het dus verskillende kultuurverwante spoke, ook in Suid-Afrika. Spookstories is vanaf die vroegste tye vertel en Afrikaanse letterkunde is ryk aan stories van dinge wat in die donker rondsluip en dwaal. Reeds in die begin van die 1700’s was die spookstorie van die Heks van Hexrivier bekend aan die Kaap. Ds SJ du Toit se Werkelike geesverskynings: Europese en Afrikaanse (1892) lei die tradisie van Afrikaanse spookstories in. Hy skryf ook in 1901 in Ons Klyntjie dat “in di froegste fan myns geheuge-ontwikkeling was ek danig bang fer spoke”. Hy bely ook dat hoewel baie spookstories opgemaak is, daar sommige verskynsels is waarin hy onwrikbaar glo. Bekende spookstorieskrywers en -boeke is Charles Fryer se Van spoke gepraat, Danie Botha se Die Beste Spookstories van CJ Langenhoven, Eugene Marais se Die huis van die vier winde, C Louis Leipoldt se Waar spoke speel asook PJ Nienaber se Geeste en gedaantes. Meer onlangse Afrikaanse spookstories is onder meer dié van Fanie Viljoen en Francois Bloemhof. Spookstories is ʼn genre met sy eie eienskappe en is ʼn sub-genre van die gruwelverhaal, die gotiese verhaal en die fantasieverhaal. Die grense tussen die genres is vaag, maar tog gedefinieerd genoeg om ʼn onderskeid te kan tref.

Spoke kom in verskeie gedaantes voor: hulle kan onsigbaar wees en slegs met ʼn geluid verband hou, hulle kan as nie-lewende wesens verskyn of kan selfs as ʼn tipe lig of in die vorm van ʼn spookdier te voorskyn kom. Sommiges reken daar is groeperings van spoke, soos byvoorbeeld die ‘eksperimentele spoke’ waardeur die geeste van lewende mense danksy misterieuse magte op verskillende plekke verskyn óf byvoorbeeld spoke wat slegs tydens ʼn persoonlike krisis van mense by hul verwante verskyn. Dan is daar die ‘postmortem spoke’ wat eers ná die dood van ʼn persoon verskyn. ‘Ware spoke’ is nog ʼn tipe – hulle verskyn die meeste en het geen verbintenis met die mense aan wie hulle verskyn nie, want hulle is liggingsgebonde soos byvoorbeeld in ʼn ‘spookhuis’. Dan is daar ‘astraalgeeste’ wat in die antieke oosterse godsdienste as die geeste van sterre en planete beskou is asook ‘klopgeeste’ wat veral snags werksaam is en ʼn geraas soos byvoorbeeld klopgeluide veroorsaak.

Maar waarom spook dit? Dit blyk dat daar onderskei moet word tussen geeste – veral bose en kwelgeeste – aan die een kant, en die spookgedaantes van gestorwenes aan die ander kant. Hier is egter ook geen onskendbare grenslyne nie; daar is spoke van gestorwenes wat boosaardig of goedaardig kan wees. Dikwels berus die redes waarom gestorwenes spook by ʼn sedelike gevoel onder mense oor wat reg en verkeerd is. Dit kan byvoorbeeld oor reg en geregtigheid handel – iemand is op ʼn onnatuurlike wyse dood en nou beur hy/sy terug na die land van die lewendes; iemand is vermoor en nou kom hy/sy die moordenaar kwel om hom só te straf; iemand het ʼn onreg gepleeg en kan nie rus vind in die graf nie en keer herhaaldelik terug sodat die droewige toneel sigself weer en weer afspeel; ʼn gestorwene is nie reg begrawe nie en soek iemand om sy/haar beendere korrek te ruste te lê; of iemand het ʼn groot onreg teen ʼn god gepleeg (soos byvoorbeeld in die Vlieënde Hollanderstorie).

Daar is ook afweermiddels gebruik om spookgedaantes en geeste weg te hou. Dit begin reeds by die sterfgeval waar mense vensters oopgemaak het om die gees van die gestorwene maklik te laat uitkom. Die gebruik om die lyk met die voete eerste na die graf te dra is ook gevolg, want dra jy hom kop eerste sal hy die paadjie terugvind huis toe.
Sprinkel ook sommer water agter ʼn lykstoet, waarskynlik om die spore uit te wis waarop die spook sou kon terug loop huis toe – ʼn bekende bygeloof was dat spoke boonop bang is vir water. Kom die spook jou by die huis pla, dan kan die deure en vensters afgebreek en elders herbou word sodat die spook nie sy pad kan vind nie. Daar was ook ʼn paar bygelowe ten opsigte van dwaalgeeste. Byvoorbeeld, moenie agtertoe kyk as jy wegvlug van so ʼn gees nie, want dan sal jou kop so bly staan. Moenie op ʼn dwaalgees skiet nie, want jou geweerloop sal smelt of die loop sal na jou toe draai. Laastens, indien ʼn spook jou sou klap, moet jy room aan die brandplek smeer of melklappies opsit, want melk of room is beskou as voedsel vir die geeste en sal jou genees. Mens weet egter nie hoe doeltreffend hierdie pogings was om die spookgevaar af te weer nie!

So, hoe lyk die spoke van die Noord-Kaap?

Fritz Steenkamp vertel van die spook by ʼn groot boom in Danielskuil en hoe vinnig een van sy vriende huis toe gehardloop het weens die spokery daar. Steeds in Danielskuil, vertel Roxanne Kotze van die ligskakelaar wat sommer vanself afskakel. In Delportshoop het Deon Botha ook so ʼn ‘ligskakelaar-spook’ in sy huis gehad. Dan is daar die stories, vertel deur Gretchen Thomas, oor die koue wind wat desjare teen middernag in die ou skoolkoshuis begin waai het, deure wat skielik oopgegaan het en iets wat aan die kinders se tone geraak het.

In Hanover spook dit glo in die dorpsmuseum, die hotel en verskeie huise. Babs Wienand sê daar is ʼn lastige spook in die museum wat daarvan hou om aan iemand se been te vat, en in een van die huise rook die spook glo só dat die pyprook saans in die slaapkamer geruik kan word. ʼn Moedswillige spook in Jan Kempdorp het Hannah Phillips se pa die hele nag rondom die kerk laat loop en hy kon toe eers sesuur die volgende oggend by die huis uitkom. Johannes Blaauw van Marydale het op sy beurt ʼn ‘vars spook’ met ʼn vaal jas gesien.

Blykbaar hou spoke van skole. Linda Beerwinkel van Petrusville vertel van die beker wat afgegooi is van ʼn tafel in haar klaskamer en die stoordeur wat onverklaarbaar oop en toe slaan. Een van die leerlinge het gevoel hoe twee onsigbare hande hom by die klas se deur uitdruk. Die skool is boonop glo op ʼn ou begraafplaas gebou. En wie ken nog die glasie-glasie speletjie? So het Maria Wilson van Petrusville en haar maats gesien hoe die glas beweeg en hoe daar ʼn lig in die glas verskyn. Die spook was ook geneig om hulle te knyp, selfs al het hulle onder die bed gaan wegkruip.

Piet Gall van Klipfontein herinner hom aan ʼn man, met ʼn helm op sy kop en ʼn kostrommeltjie in sy hand, wat langs die pad gestaan het. Dié het skielik net verdwyn toe hy daar by hom stop. By Nourivier het Byron Cloete, sy oom en oupa vee opgepas. Hier het ʼn spook in die nag “kadoor-kadarra-kadoef!” om die huis gedraf en die kruiwa gevat om water te gaan haal, waarna hy vir hom tee gemaak en hul brood opgeëet het. Hy vertel ook van die spook wat op hul bul se rug gesit het. Die bul was kwaai en het geblaas, en hulle het probeer om hom vas te maak. Tydens die gestoei met die bul sien hulle toe ook sommer twee spoke wat op die windpomp sit – met dié het hulle laat spaander en onder die bed ingeduik! By ʼn ander geleentheid was daar ʼn spookbakkie wat daar rondgery het, ook iets wat potte en bekers in die kombuis laat rondvlieg het asook ʼn baba wat onder ʼn klip huil. Daniel Jass van Paulshoek vertel van sy ondervinding van skape snags oppas in die veld en die gevoel kry dat iets nie pluis is nie. Hy sien toe ook ʼn lig wat verskyn en verdwyn…net om die volgende oggend te besef hy het op ʼn graf geslaap.

Romeo Visagie van Rooifontein vertel ʼn storie van die ‘Maartmaandkind’ wat rondloop en huil. Iemand het ook in Maart teruggekeer van sy veekraal in die aand en ʼn swaar ding op sy rug gevoel – hy het gedink dit is die Maartmaandkind. Nóg ʼn storie wat hy vertel, is die van die man wat een aand alleen loop toe daar skielik ʼn man is wat saam met hom loop. Hy sê toe aan die aankomeling dat hy nie weet waarom hy daardie aand so bang voel nie. Waarop die aankomeling antwoord: “Ja, die tyd toe ek nog gelewe het, was ek net so bang gewees.” En dan is daar ʼn storie van ʼn swewende doodskis met ʼn lantern op…

Nicolaas Makatees van Tweerivier vertel van die ou man wat vir vier dae met die skape moes trek agter weiding aan. Die ou man het die aand ʼn vuur gemaak en toe hy met sy vleis, brood en koffie sit, kom daar ʼn kort maer mannetjie aan wat vol stof is en verwaarloos lyk, maar hy praat nie. Die ou man het sy kos met hom gedeel. Nie te lank nie toe kom daar nog so ʼn mannetjie aan. Die ou man vra nog vir die mannetjies of hulle nie hul droë beentjies kan vetsmeer nie, toe vra ʼn derde stem agter die kookskerm “hoesê?”. Dis toe dat die ou man besef dat dit spoke is – hy het met daardie trop skape sommer in een nag die afstand afgelê wat gewoonlik vier dae geneem het! Die laaste storie van Nicolaas is die van twee mans wat met ʼn meisie ʼn afspraak gehad het. Hulle sit by ʼn vuur en hoe laer die vuur brand, hoe meer lag sy. Dít totdat die vuur dood en daar net ʼn halwe kopbeen oor is en vuurvonke wat spat – én ʼn spookmeisie wat hulle jaag.

Maria George van Campbell vertel dat sy en nog ander mense so ʼn paar sopies agter die blad gehad het toe hulle met skemer terugloop huis toe. Meteens is daar ʼn stem wat sê “trek uit jou skoen”. Toe trek sy die skoen uit en loop verder. Die stem sê toe weer “trek uit jou skoen” en sy maak toe so. ʼn Ent verder word sy aangesê “om dansmaats te soek”. Sy sien ʼn spierwit koei, ʼn groot vuur en mense wat dans en lekker wyn drink… Toe word sy baie moeg en gaan slaap. Die volgende oggend raak sy tot haar skok op ʼn graf wakker.

Jakobus Johannes Beukes (Oom Ysterman) vertel dat hy nog nooit self ʼn spook gesien het nie, maar hy het op ʼn tyd in Pofadder gewerk waar hy mense vir konserte afgerig het. Ná een so ʼn oefening stap hy saam met ʼn vrou, “ou Feit”, en haar broers huis toe. Daar aangekom het die ouma vir hulle tee gemaak en die twee broers het begin domino’s speel. So raak dit laat en is dit al ná middernag toe hy vuurhoutjies vra om sy lamp mee aan te steek om kamer toe te gaan. Tien treë van die huis af voel hy bang en kan nie verder loop nie. Dis toe dat ʼn stemmetjie vir hom sê “wat sal daai meisie van jou dink as jy so bang is?” Hy loop toe verder om by sy kamer uit te kom, maar toe begin sy hare regop staan. Hy verduidelik daar is verskillende ‘draad’ hare – daar is die soort “wat die wind in speel” en dan is daar die soort hare wat “stilsit” Sy hare was van daardie “hardkoppige hare”, wat so parmantig is en stil sit, maar daardie aand staan al sy hare regop. Toe begin hy met alle erns aanstap na sy kamer waar hy dadelik met skoene en al in die bed spring en die kombers oor sy kop trek. Dis toe dat hy bewus word van iemand wat hom vasdruk. Hy het darem later opgestaan en buitentoe geloop, maar met die terugkeer het hy vreeslik gesukkel om sy lamp aangesteek te kry en nog ʼn keer met die spook te doen gekry. Hy vertel ook van die oorlede Oom Aneries wat een aand gestap het toe hy ʼn kindjie hoor huil. Met die sien hy ʼn kind op ʼn kombersie langs die pad lê. Hy het geroep en gesoek na die kind se ouers, maar niemand het geantwoord nie. Hy het toe die kindjie opgetel en op sy rug gedra, maar hoe verder hy loop hoe swaarder word die kind totdat hy waarneem dat die kind se voete hier langs hom sleep…

Om mee af te sluit, hier is ʼn gedig deur C Louis Leipoldt.

Ek het hoor vertel van ‘n towernaar

 

Ek het hoor vertel van ‘n towernaar

(Dis snaaks tog wat die mense glo)

Wat in sy wit tulband bewaar

Die ring van sultan Salomo;

 

Ek het hoor vertel van ‘n spook wat kom

Met volmaan op die Mieliedraai,

En wegvlug as die honde brom

Uit hartseer voor die hane kraai.

 

Die towernaar kan met sy ring

Die onderaardse kragte rem,

Aan dié wat dood is lewe bring

En dwalende, tergende geeste tem.

 

Die spook kan deur die sleutelgat

Of deur die klipsteenmure vlug,

Tot wasem in die maanskyn spat

En in die skoorsteen sit en sug.

 

Ek het hoor vertel van ‘n towernaar,

Ek het hoor vertel van ‘n spook.

Oorlede oom Sybrand het steeds verklaar:

‘Daar brand iets waar dit rook.’

 

Dus waag ek geen woord of wenk te gee

Oor die towernaar en die spook inkluis.

Die wetenskaplik bestaan van die twee

Moet die wetenskap maar uitpluis.

 

Luister gerus na die Noord-Kaapse spookstories op YouTube by https://www.youtube.com

Die vertellers is:
Fritz Steenkamp
Roxanne Kotze
Deon Botha
Gretchen Thomas
Andre de Kock
Babs Wienand
Edwin Brian Visser
Hannah Phillips
Johannes Blaauw
Linda Beerwinkel
Maria Wilson
Piet Gall
Byron Cloete
Daniël Jass
Romeo Visagie
Dina Mentoor
Jan Mentoor
Nicolaas Makatees
Maria George
Jakobus Johannes Beukes

Bronne:

Wikipedia: Spook

Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur, Deel 1 – JC Kannemeyer

Die rol van ruimte in Afrikaanse spookstories – M van Graan. Verhandeling vir die graad Magister Artium in Afrikaans en Nederlands, Noordwes-Universiteit 2008

Die Afrikaanse Volkskultuur – A Coetzee

Die Afrikaner en sy Kultuur – PW Grobbelaar

 

Skerpskryf-kompetisie se wenners 2019

 

Die negende ‘Skerpskryf in Afrikaans’, ’n skeppende skryfkompetisie vir graad 7-, 10-, 11- en 12-leerders van Drakenstein, was aangebied op Saterdag 19 Oktober 2019 deur die Hugenote Gedenkskool in Dal Josafat in samewerking met die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl. Leerders én skole het ʼn hele paar pryse gewen.

• Herman Snyman was aangewys as algehele hoërskoolwenner

• Courtney Bailey was wenner in die skeppende afdeling

• Christie-Ann Dinthé was wenner in die taalkundige afdeling

• Carlton Nel was aangewys as algehele laerskoolwenner en die eerste twee naaswenners was Vonnilda Davids en Shania Domingo

This slideshow requires JavaScript.