Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) het verlede week die bouers wat hierdie ikoniese monument tussen 1972 en 1974 opgerig het op ʼn onthaal ter plaatse in herinnering gebring en vereer.

As deel van die ATM se 45ste bestaansjaar in 2020, het die instelling ’n mondelinge oorlewering-studie van die werkers, vakmanne en voormanne onderneem wat nou in unieke uitstalling gestalte gekry het waar die “onbekendes”, wat dié grootse projek uitgevoer het, gehuldig word.

Altesaam tien werkers en informante, asook hul gades, het die geleentheid bygewoon waar verteenwoordigers van die media en hooggeplaastes ook teenwoordig was. Dit het raadslede Kobus du Plessis van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit, Johan Miller van Drakenstein Munisipaliteit en Jeremy Fasser van Stellenbosch Munisipaliteit ingesluit asook dr. Hendrik Theys van Afrikaanse Taalraad.

Die ATM se direkteur, Michael Jonas, het almal verwelkom en bedank vir die ongelooflike bouprojek waarvan hulle deel wees waarna Miller ʼn oorsig van die projek gegee het voordat die ATM se kurator, Chantelle de Kock, verduidelik het wat die mondelinge oorlewering-studie en uitstalling behels.

Die bouers se bydrae is verder erken deur die oorhandiging van ʼn “paspoort” aan hulle (of ʼn verteenwoordiger) wat die houer lewenslank gratis toegang tot die Taalmonument en alle aktiwiteite daar gee. Darryn Kenned het die gaste met musiek vermaak waarna ʼn heerlike ete bedien is.

Die “bouers-uitstalling” is te sien in die Besoekersentrum by die Taalmonument, maar meer inligting en geskiedkundige foto’s oor die bouprojek en herinneringe is aanlyn te lese by www.taalmuseum.co.za/manne-van-graniet-en-staal-die-bouers-van-die-taalmonument/