“Die stigting van die GRA was ‘n klein begin van die georganiseerde strewe na die erkenning en uitbouing van Afrikaans. Die GRA en die taalbewegings het ‘n kettingreaksie veroorsaak wat in die 20ste eeu sy uitwerking sou laat blyk.” – WAM Carstens & EH Raidt, Die Storie van Afrikaans 2019
Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) is op 14 Augustus 1875 (vandag 149 jaar gelede) in die huis van Gideon Malherbe in die Paarl gestig. Agt mans was teenwoordig op die eerste vergadering. Buiten Gideon Malherbe, was die ander lede CP Hoogenhout, DF du Toit (Dokter), DF du Toit (Oom Lokomotief), ds SJ du Toit, August Ahrbeck, Petrus Malherbe en SG du Toit. Almal behalwe Hoogenhout en Ahrbeck was verwant. Die meeste van die stigterslede was afstammelinge van die Franse Hugenote.
Op 25 September 1875, tydens die tweede vergadering, kry die GRA sy finale beslag onder voorsitterskap van ds SJ du Toit. Hul doel was: “Om te staan vir ons Taal, ons Nasie en ons Land, die vertaling van die Bybel in Afrikaans, die bevordering van Afrikaans as lees- en skryftaal. Hierdie taalbeweging was hoofsaaklik geografies beperk tot die Paarl en omgewing en het gesentreer rondom ds SJ du Toit en die GRA. Die Genootskappers het hulle beywer vir die regte van Afrikaans en hulle belangrikste taak was om die mense te leer lees. Die beweging het egter tot niet gegaan as gevolg van die politieke aktiwiteit van ds SJ du Toit.
Die GRA het die eerste Afrikaanse maandblad Die Patriot in 1876 uitgegee. Die Patriot-woordeboek het kort na 1900 verskyn. Die Bybel is in Afrikaans vertaal en die eerste oplaag is gedruk en beskikbaar gestel in 1933.
In 1925 word Afrikaans as ‘n amptelike taal erken. Hierdie gebeurtenis word in 2025 deur die ATM gevier, wanneer dit ook die 50ste verjaardag van die instelling asook die herdenking van die stigting van die GRA 150 jaar gelede is.
BEELD: Huis Gideon Malherbe is vandag die Afrikaanse Taalmuseum in Paarl (Foto Afrikaanse Taalmuseumversameling)
* Op die vooraand van die 100-jarige viering van Afrikaans as ’n amptelike taal in Suid-Afrika, nooi die Afrikaanse Taalmuseum en-monument (ATM) en Het Jan Marais Nationale Fonds belangstellendes na ’n GRATIS insiggewende taaldagbespreking op VRYDAG, 16 AUGUSTUS 2024. Besonderhede by https://www.taalmuseum.co.za/wie-en-wat-word-in-2025…/