Laaste kans van die seisoen om ʼn Sterrekykpiekniek te beleef

Kapenaars en besoekers kan vir oulaas die Afrika-hemelruim se skitterende sterre van naderby leer ken tydens die laaste piekniek op Paarlberg op Saterdag, 9 Maart 2019 – dit beloof om weereens ʼn feestelike aand in die beeldskone omgewing te wees. Boonop is ʼn pragtige sonsondergang en ʼn gratis begeleide toer van die ikoniese beeldhouwerk ingesluit én is die aand ten bate van ‘n goeie saak.

Gaste kan die sterrehemel verken met behulp van Orion Observasie Groep (OOG) se lede wat graag hul kennis en teleskope deel. Dié keer is die fokus op die ‘5 Grotes van die Afrika-hemelruim’, ‘n projek van die Sterrekunde Vereniging van Suider-Afrika (ASSA) om mense te inspireer om die suider-naghemel te verken en te waardeer. Die vyf grotes waarop gefokus word, is ʼn oop sterswerm (Suidelike Pleiades), bolvormige sterswerm (Omega Centauri), helder newel (Eta Carinae), donker newel (Kolesak) en sterrestelsel (Melkweg).

Die pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners en oorsese besoekers, wat veral die mooie vergesigte van die valleie, berge en skiereiland geniet. Die tema is ‘Sterre vir Afrika’ en die piekniek begin om 18:00. Die begeleide toer van die monument is om 18:30 en besoekers kan van 20:00 tot 22:30 deur die teleskope na die sterre tuur. Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies te bring of een vooraf te bestel (R300 vir twee persone of R400 met ‘n mandjie ingesluit) by die Volksmond Koffiewinkel op 021 863 2800. Volksmond sal oop wees vir koffie en ligte verversings asook pizza. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Onthou asseblief verkykers en warm kleding. Besoekers word aangemoedig om die omgewing te verken en daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmuseum se voorleesprojek vir kinders. Piekniekgangers word versoek om ‘n nuwe of tweedehandse kinderboek saam te bring ter ondersteuning van dié projek.

Die toegangsprys is R40 per volwassene en R10 per kind; kaartjies is by Computicket of die hek beskikbaar, maar bespreking (021 863 0543/4809) is noodsaaklik sodat daar vir genoeg teleskope voorsiening gemaak kan word. Sterrekykpieknieks sal helaas gekanselleer word indien die weer sleg is. Skakel 073 853 3100 of 083 544 6510 vir weernavrae. Vir meer oor die ‘5 Grotes van die Afrika-hemelruim’, sien www.facebook.com/big5sky/

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook.

Die Afrikaanse Taalmonument: kultuur, natuur en plesier. Én omgee vir die gemeenskap van hier.