Petro Gordon in gesprek met Willem Fransman jr by Afrikaanse Taalmuseum

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en Naledi Uitgewers is trots om die Paarlse skrywer, Petro Gordon, se jongste boek – Hier’s my hart, Pa! – waarvan sy die samesteller is, tydens ʼn intieme, gratis geleentheid aan die groter publiek bekend te stel. Om als te kroon sal die bekende letterkundige en woordkunstenaar Willem Fransman jr op Sondagmiddag, 23 Mei 2021, met haar in gesprek wees. Dit sal gaste ʼn unieke blik op haar lewe, skeppende werke en dié boek – waarin 100 mense tussen 12 en 73 openhartige briewe aan hul pa’s geskryf het – gee.

Die talentvolle Gordon se vorige bundel – Nogtans sal ek jubel – het in 2019 verskyn en van haar werke is in ander bundels met plaaslike en Nederlandse skrywers ingesluit. Sy is ʼn rubriekskrywer, direksielid van DAK Netwerk en ook bekend om haar motiveringspraatjies en opheffingswerk in die omgewing. “As jy vandag voor jou pa sou staan, en jy kon vir hom sê of vra wat jy nooit kon of wou nie, wat sou dit wees?” is die vraag wat aan deelnemers gestel is. “Ek is baie opgewonde oor die vooruitsigte van genesing, selfs daar waar die pa nie meer leef nie,” sê Gordon. “Ek glo dat hierdie boek die katalisator sal wees vir opbouende gesprekvoering met die oog op beter pa-kind-verhoudings.”

Fransman jr het nie net talle kortverhale, radiodramas en opdragwerke op sy kerfstok nie, maar tree ook by kunstefeeste as akteur, regisseur, storieverteller en voordragkunstenaar op. Hy is boonop tans die langsdienende voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging.

Weens Covid-19 sal slegs 50 gaste geakkommodeer kan word, dus bespreek asseblief teen 18 Mei by Jeffrey Pietersen op 021 872 3441 of bemarking2@taalmuseum.co.za. Die geleentheid vind vanaf 15:00 tot 17:00 by die Historiumgebou in Pastorielaan plaas – as die weer dit toelaat buite op die grasperk, andersins in die raadsaal. Die boek sal ook te koop aangebied word. Meer oor Naledi-uitgewers by https://naledi.online/ waar Gordon se boek ook eersdaags aanlyn aangeskaf kan word.

Vir verdere inligting oor hierdie en ander opwindende geleenthede asook (aanlyn-)kursusse, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin (tans aangebied teen ʼn 20%-afslag), wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. DIE TAALMONUMENT EN TAALMUSEUM IS OOP VIR BESOEKERS