Taalmonument, KC 107.7 en TC Events Co bied Vryheidsdagkonsert aan

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), KC 107.7 en TC Events Co bied op die vooraand van Vryheidsdag ʼn buitelug-piekniekkonsert aan waartydens talle musikante die gaste met ʼn verskeidenheid genres gaan vermaak. Dié heerlike herfsaand-vertoning vind op Maandagaand, 26 April 2021, plaas ter viering van die land se eerste demokratiese verkiesings op 27 April 1994.

Chelsea Vox, DJ Spartan, DJ Lovell, Jakkal the Bones, Mario Arnolds, RJay & LK asook SoulSound Band beloof om besoekers op die lowergroen grasperke met ʼn wye musiekkeuse te beïndruk wat onder meer jazz, klassiek en R&B sal omarm. Gavin Meiring, hoofbestuurder van KC 107.7, sê: “Ons is baie opgewonde om die eerste Vryheidskonsert aan te bied en sien daarna uit om sommige van ons luisteraars te ontmoet.”

Volgens die ATM se direkteur, Michael Jonas, wil hulle met hierdie geleentheid nie net die bevryding van die land nie, maar ook die bevryding van Afrikaans, in herinnering bring. Ook wil hulle inwoners en toeriste daarop attent maak dat die pragtige monument ʼn lewende instelling is. “Besoekers kan van die geleentheid gebruik maak om hierdie unieke, simboolbelaaide beeldhouwerk te besigtig. Ons moedig gaste aan om die omgewing te verken en hulle het ook toegang tot veilige parkering, ʼn pendeldiens, buitelug-speletjies, kinderspeelparke asook ’n skryfwerk-uitstalling waar nuwe Arabies-Afrikaanse werke tans te siene is,” sê hy.

Belangstellendes sal egter moet spring om kaartjies via Computicket te koop aangesien net 500 beskikbaar sal wees teen slegs R100 per volwassene (gratis vir kinders onder 6). Hekke open om 17:30 en die vertoning duur tot 21:30 in die Tuinteater. Gaste kan hul eie piekniekmandjies en drankies (geen glas) bring. Helaas word geen gazebo’s, honde of vure toegelaat nie. Onthou warm klere, ’n kombers of kussing, flits asook ʼn masker. Sien www.taalmuseum.co.za/covid-19/ vir die spesifieke protokolle.

Vir verdere inligting oor hierdie en ander opwindende geleenthede asook (aanlyn-)kursusse, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin (tans aangebied teen ʼn 20%-afslag), wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. DIE TAALMONUMENT EN TAALMUSEUM IS OOP VIR BESOEKERS.