Ten spyte van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) se fokus op die bevordering van Afrikaans as lees- en skryftaal was daar steeds pogings om Nederlands as taal in Suid-Afrika te bevorder. Só byvoorbeeld met die stigting van die Zuid-Afrikaansche Taalbond wat as teenvoeter moes dien teen verengelsing. Dit het aanleiding gegee tot pogings om Nederlands meer regte te gee en dat Nederlands (naas Engels) as amptelike taal in Junie 1882 aanvaar is.

Die Zuid-Afrikaansche Taalbond, onder leiding van prof N Mansvelt, het Afrikaans gebaat omdat besef is dat Afrikaans verryk kan word deur Nederlands. Die grammatikale ingewikkeldhede van Nederlands het tot gevolg gehad dat daar ’n soort van vereenvoudigede Nederlands  voorgestaan is waarvan ‘n vereenvoudigde Nederlandse spelling sterk gepropageer is deur onder meer akademici.

Die bedoeling was om die Nederlandse spreektaal nader aan die Afrikaanse skryftaal te bring – dit het egter nie by almal inslag gevind nie. Die aanhangers van dié beweging wou onder meer Hollands vereenvoudig om dit makliker lees- en skryfbaar vir Afrikaanssprekendes te maak.

Daar is egter mettertyd besef dat  Nederlands nie langer vir Suid-Afrika deug nie. Hoewel daar ’n monument (die eerste taalmonument in SA) vir Nederlands op 17 Januarie 1893 opgerig is in Burgersdorp, het die Nederlandse beweging nie geslaag in sy oorspronklike doel nie.

In 1909 is die “Zuid Afrika-wet” aangeneem, waardeur die Unie van Suid-Afrika met Uniewording op 31 Mei 1910 tot stand sou kom. Art. 137 van die Unie-grondwet het as volg gelui: “De engelse alsmede de hollandse talen zijn officiële talen van de Unie. Zij worden op een voet van gelijkheid behandeld en bezitten en genieten gelijke vrijheid, rechten en voorrechten. Alle akten, verslagen en verrichtingen van ‘t Parlement worden in beide talen gehouden, en wetsontwerpen, wetten en kennisgevingen van algemeen publiek gewicht of belang door de Regering van de Unie uitgegeven, zijn en geschieden in beide talen.” – Chantelle de Kock

Bron: Die Storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika Deel 2, WAM Carstens & EH Raidt, Protea Boekehuis 2019

Beeld: Die monument opgerig vir Nederlands in Burgersdorp in 1893 (Wikimedia)