taalmuseum_esselenpark_museumuitstalling bl 1

Groot opwinding het gister (28 Mei 2013) op Worcester geheers toe ’n interaktiewe museumuitstalling by Esselenpark Primêr ter viering van hul 60ste bestaansjaar bekendgestel is. Dié projek is aangepak in samewerking met die Afrikaanse Taalmuseum en –monument in die Paarl.

Kliek hier om ‘n pdf-weergawe van die Esselenpark Museumuitstalling af te laai

Die geleentheid is deur ouers, oudleerders, opvoeders en leerders bygewoon. Die gasspreker, Desmond Andrew Horne, oud-skoolhoof, het staaltjies gedeel uit die dae van die “plankiesskool” (die eerste skoolgebou wat met houtplanke gebou was). Hy het verwys na oud-skoolhoof en stigter van die skool, ED Arries, se boodskap dat ’n mens nie na die gebou moet kyk nie, maar na wat tussen die vier mure gebeur.

Catherine Snel , bestuurder van erfenis en opvoeding by die Taalmuseum, het vertel hoe sy ná sy by ’n opvoeder van die skool, Kevin Sass, verneem het van hul  60-jarige bestaansvieringe, ‘n geleentheid geïdentifiseer het om betrokke te raak, aangesien die kurrikulum voorskryf dat graad 4-leerders ‘n museumuitstalling moet doen.

Die leerders moes ’n interaktiewe museumuitstalling van alledaagse voorwerpe oor hul skool saamstel, met byskrifte om daaraan betekenis te gee. Hulle moes verskillende vorme van inligting, waaronder foto’s, versamel. Hulle moes ook onderhoude voer met oudleerders en -opvoeders.

Snel en haar kollega Janine September (Brown), erfenis- en opvoedkundige beampte van dieTaalmuseum, het die skool gereeld besoek om te help met onderhoudvoering en het ook ’n boekie oor die projek saamgestel.

“So word die stories van die skool vertel soos gesien deur die oë van die kind. Die neerpen van hierdie inligting is ongetwyfeld van onskatbare waarde aangesien hierdie geskiedenis nog nêrens opgeteken is nie.”

Een van die interessante voorwerpe wat ingesamel is, is ‘n skoolbaadjie wat behoort het aan ‘n leerder wat dit destyds met sy eie sakgeld ge-“lay-buy” het.

Charlene Krieger, graad 4-opvoeder, het gesê sy is “supertrots” op die leerders. “Hierdie museumuitstalling was iets wat ek nie sou geweet het hoe om aan te pak sonder die hulp van die Taalmuseum nie.  Die hoogtepunt was die opvoedkundige uitstappie na die Taalmuseum en -monument en ons is dankbaar vir die busvervoer wat deur die museum geborg is.”

Vir meer inligting oor die Taalmuseum en –monument se erfenis- en opvoedkundige projekte, kontak vir Janine Brown by tel. 021 872 3441 of  opvoeding@taalmuseum.co.za.