Taalmonument vier Museumdag met unieke paneelbespreking

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) vier op 29 Mei 2021 Internasionale Museumdag met ʼn uiters interessante paneelbespreking oor vanjaar se tema, “Die Toekoms van Museums: Herstel en Herverbeel”.

Die paneel bestaan voorlopig uit Beverley Thomas van die internasionale museumraad (ICOM), Bertdene Laubscher, bestuurder van die Togryers Museum op Ceres, Carike Heydenrych, Drakenstein Plaaslike Toerismevereniging se bemarkingsbestuurder van Paarl & Wellington Wyn en Toerisme, asook die ervare museum- en erfeniskonsultant Helen Joannides.

Gegewe die impak wat die Covid-19-pandemie wêreldwyd ook op museums gehad het, sal die klem val op hoe die instellings se aanbiedings herbedink en hul kubervoetspore uitgebrei kan word om meer inligting via die internet te versprei en sodoende meer e-besoekers te lok.

Thomas is die direkteur van die Amazwi Suid-Afrikaanse letterkundemuseum in Makhanda en het, en dien steeds, in verskillende museumorganisasies. Laubscher werk al sedert 1996 by die Togryers Museum – wat onder meer die ryke (voor)geskiedenis van Ceres belig – en is bekend om haar geesdrif vir die gemeenskap en museum. Joannides het die Western Cape Museum Educator Group in 2010 gestig waarvan sy die voorsitter is. Hierdie groep bied professionele ontwikkeling en netwerkgeleenthede aan opvoeders in museums en ander ervaringsleeromgewings.

Die unieke gesprek vind op Saterdag, 29 Mei, by die monument vanaf 10:00 tot 12:00 plaas. Koffie, tee en ligte verversings sal bedien word, en gaste sal vrae kan stel of opmerkings kan maak. Bywoning is gratis, maar weens Covid-19 word slegs 50 gaste toegelaat. Bespreek dus asseblief voortydig by Elsabé Pearce op ontvangs@taalmuseum.co.za of 021 863 0543 teen 24 Mei.

Die internasionale museumraad organiseer sedert 1977 jaarliks die Internasionale Museumdag, wat ‘n unieke oomblik vir die internasionale museumgemeenskap verteenwoordig. Op hierdie dag bied die deelnemende museums skeppende gebeure en aktiwiteite, wat verband hou met die tema, aan, betrek hulle die publiek en beklemtoon die belangrikheid van die rol van museums as instellings wat die samelewing en die ontwikkeling daarvan dien. Sien www.imd.icom.museum vir meer inligting.

Vir verdere inligting oor die ATM se opwindende geleenthede, (aanlyn-)kursusse en Covid-19-protokolle, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin (tans aangebied teen ʼn 20%-afslag), wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. DIE TAALMONUMENT EN TAALMUSEUM IS OOP VIR BESOEKERS – TANS GRATIS TOEGANG VIR KINDERS ONDER 18.