Gewilde konsert weer dié somer by Taalmonument

Die ryk Suid-Afrikaanse en inderdaad Afrika-jazztradisie is die strelende fokus van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se soel sonsak-piekniek op Saterdag, 24 Februarie 2024, wanneer jazzsterre dié musiekstyl – gewortel in die vasteland en haar mense – huldig. Chadleigh Gowar bring vanjaar weer ’n ongelooflike groep talentvolle en ervare kunstenaars byeen wat die gehoor op ‘n musikale reis sal neem terwyl die son agter die ikoniese monument wegsmelt.

Lady Felicity & The Trumpets, Richard Ceasar, Brent Cruz en Kinky Afro verteenwoordig ’n verskeidenheid jazz-genres, om nie te praat van hul energieke persoonlikhede en musikale uitvoerings nie. Gowar is ʼn Gold Standard Bank Ovation-bekroonde kunstenaar van die Nasionale Kunstefees en baskitaarspeler op kykNET & kie se gewilde ‘Koortjies saam Jonathan Rubain’. Die aand se jazz-repertoire sal plaaslike, oorspronklike en Afrikaanse items insluit, asook dansmusiek wat jou die hele aand op die been sal hou.

Die hekke maak reeds om 17:00 oop en die musiek sal om 18:00 afskop. Gaste word aangemoedig om die omgewing en die monument te verken – ‘n gratis begeleide toer vind om 17:30 plaas om die geskiedenis en simboliek te verduidelik. Vir die kinders wag buitelugspeletjies, speelgronde en baie ruimte. Besoekers is welkom om hul eie piekniek en drinkgoed (geen glas) saam te bring of om piekniekmandjies vooraf by Suikerkan te bestel via 082 216 2510 of info@diesuikerkan.co.za – dié bistro sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop. Trek warm aan en bring ‘n flitslig; voldoende veilige parkeerplek is beskikbaar. Helaas word geen honde of vure toegelaat nie. Die musiek duur tot 21:00.

Kaartjies, wat na verwagting snel gaan uitverkoop, is vooraf by Computicket en die Taalmonument teen slegs R180 per persoon beskikbaar. As daar enige kaartjies oor is, sal dit vanaf 17:00 by die hek verkoop word. Vir meer inligting oor die kunstenaars, sien hul sosiale media- en oudiostroomkanale.

  • Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die koffiewinkel bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte; kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 216 2510.