Taalmonument bied gevorderde klasse oor boekherstel en -bindery

Kort op die hakke van ʼn hoogs suksesvolle inleidende kursus oor die herstel van boeke, bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl weer ʼn kursus, met die fokus op gevorderde tegnieke soos leerbind- en bladgoudwerk, vanaf 27 tot 29 September 2021 aan. Die boekherstelspesialis George Wentzel se kursus is geskik vir beginners én deelnemers wat reeds basiese boek- en papierherstelwerk onder die knie het. Wentzel, ‘n gekwalifiseerde meesterboekbinder met meer as 45 jaar se ondervinding, het voorheen in die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika se boekbewaringsafdeling gewerk. Sy passie is om hierdie skaars vaardigheid te onderrig en hy het al meer as 50 rampbestuur- en boekbindwerkwinkels oor die land aangebied.

Tydens die tweetalige driedagkursus sal deelnemers onder meer drie boeke maak, Solanderbokse bou, stikwerk van bladsye doen en baie meer oor boekherstelwerk leer. Ingesluit is basiese konsepte, werksprosedures asook demonstrasies van en praktiese oefeninge in skutblaaie, boekbindwerk, leerbindwerk, omhulsel afronding en bladrugsteun.

Die kursus kos R2 000 per persoon wat ʼn sertifikaat van bywoning en ʼn stel basiese gereedskap insluit. Dit vind daagliks van 09:00 tot 16:00 by die by die Taalmonument plaas. Koffie en tee is ingesluit, maar deelnemers moet vir hul eie middagete sorg. In terme van die Covid-19-regulasies sal deelnemers maskers moet dra.

“Ek beveel hierdie kursus aan vir mense wat graag meer wil leer oor boekherstel,” het een deelnemer, Colleen Chatt, rakende die inleidende kursus in Junie 2021 gesê. “Die kursus het my inspirasie gegee om voort te gaan met iets nuuts en opwindends,” het ʼn ander deelnemer, Angelo Carelse, bygevoeg. Die 15 deelnemers het almal vir Wentzel uitgesonder as ʼn besonder dinamiese en plesierige aanbieder.

Vir besonderhede en besprekings, kontak Jeffrey Pietersen by 021 872 3441 of stuur ʼn e-pos na bemarking2@taalmuseum.co.za. Sien meer oor die vorige kursus op die Taalmonument se webtuiste en Facebook-blad.

Die ATM bied jaarliks ʼn reeks kursusse en werkswinkels aan wat fokus op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede. Vanjaar se program sluit ook onderwerpe soos fotografie in. Voorstelle vir bykomende werkswinkels oor soortgelyke onderwerpe is welkom. Sien www.taalmonument.co.za vir meer inligting en volg hulle op Facebook vir al die ander opwindende geleenthede wat by die Taalmonument plaasvind. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin (tans aangebied teen ʼn 20%-afslag), wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.