Taalmonument verjaar en die mense gaan dans

In die aanloop tot die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se 50ste bestaansjaar, vier die vriendelike personeel haar 49ste verjaardag met ’n swierige dans op Saterdagaand, 12 Oktober 2024, waarheen een en almal genooi word. Die tema is “Denim en Diamante” en Coolsounds Band sal die musiek optower om almal op hul tone te hou tussendeur die eet, drink en kuier.

Coolsounds is in 1996 deur Carl en Nora van Rensburg gestig en het sedertdien hul merk op die plaaslike musiektoneel gemaak danksy verskeie optredes, deurlopende radiolugtyd en die vrystelling van talle CD’s. Die groep bestaan ​​uit Ronald Jones (sanger), John Bekkies (klawerbord), Carl (tromspeler en sanger), Errol Davids (saksofoon), Andre Webb (bas) en Nazeem Woods (kitaar).

Die geleentheid vind in die Paarl-stadsaal vanaf 19:00 plaas en gaste is welkom  om hul eie spys en drank te bring aangesien daar net ’n paar versnaperinge aangebied sal word. Die dans duur tot 23:00.

Kaartjies kos slegs R120 per persoon en moet vooraf fisiek by die Historium Trust in Pastorielaan, Paarl, of via kommunikasie@taalmuseum.co.za gekoop word. Vir meer inligting, sien taalmuseum.co.za of kontak Stefanie Rasztabiga op voorgenoemde e-posadres of 021 863 0543.

  • Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die koffiewinkel bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte; kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 216 2510.