Daar’s goeie nuus, minder goeie nuus … en baie om te dala. Só skryf SYBRANDUS ADEMA, die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se kommunikasiebeampte, ná die geharwar oor ’n moontlike naamsverandering vir die instelling.
[Die artikel verskyn op vryeweekblad.com, 22 Julie 2022 – Teken gerus op hulle in: “Ons taak is om ’n ingeligte openbare mening te help skep en so ons demokrasie te dien.”]
KOM ons val met die positiewe by die deur in: Bruin en wit Afrikaanses het soos ’n gewone taalgemeenskap saamgestaan téén die voorstel. Tydens die openbare vergadering in die Paarl het ’n jong bruin vrou opgestaan, haarself as ’n Afrikaner geïdentifiseer en kanala-gevra dat die “taalstokkie” aan ’n jonger geslag oorgedra word. Op die proteskonsert het die swart Shonasprekende Zimbabwiër Tinotenda Singe in Afrikaans gesing – die taal lê hom na aan die hart en hy praat dit vlot. In die sosialemediasfeer het die jong bruin taalaktivis William Xkhoa Sezoe, net soos vele ander, vir die monument en Afrikaans in die bresse getree.
Dit als die resultaat van die ATM, kultuurorganisasies en Afrikaanses om die afgelope dekades met mekaar te praat om die gemeenskap se onnatuurlike skeiding tydens apartheid reg te stel. Die pyn is steeds daar, maar ’n ver pad is afgelê sedert die skrywer Kirby van der Merwe in ’n aparte “Kleurlingbussie” moes ry om die semi-veelrassige opening van die Taalmonument in 1975 by te woon.
Aan die kant van laste was daar die kritici én ondersteuners wat steeds Afrikaans se diverse geskiedenis misken en aanneem dat die ATM deur die oorlye Genootskap van Regte Afrikaners aan die neus gelei word. Toe kom daai Iere van Ryanair ook kort voor 16 Junie met hul gedoemde en irrasionele Afrikaanse toets wat ou wonde oopgekrap het. In plaas daarvan om konteks aan Afrikaans en Afrikaanses te gee, het die meeste verslaggewers, binnelands en buitelands, ou stigmas gespoeg-en-plak en soms totaal verkeerde inligting oor ons taaltapisserie gepubliseer. Praat van alternatiewe feite…boonop weens ’n toets wat Afrikaanses nie bedink het nie, maar soos ’n sambok teen hulle gebruik is. Njannieskapêla?
Afrikaans is immers óók ’n anti-koloniale, pro-veeltaligheids-, antihomofobie- en struggletaal, ’n taal wat eens gebruik is deur die Black Sash (die Swart Serp), Kaapse vakbonde in die stryd om ekonomiese en maatskaplike vryheid, deur Bram Fischer (SAKP), Jakes Gerwel (akademie), Adam Small en Antjie Krog (skrywers), Jeremy Veary en Ashley Kriel (MK), asook Matthews Phosa (ANC), wat ’n Afrikaanse digbundel gepubliseer het. Op Bush Radio het swart en bruin kommentators verlede maand gepraat hoe hulle juis ook Afrikaans in 1976 as proteswapen aangewend het.
Pan-Afrikaanse intellektuele soos Kwesi Kwaa Prah en Dele Olojede het al herhaaldelik die sukses van Afrikaans as ’n dekolonisasieprojek geprys en ander inheemse tale aangemoedig om die goeie daarvan na te boots. Regter Mandisa Maya het ’n 2020-hofuitspraak in isiXhosa (die eerste ooit in dié taal) ten gunste van Afrikaans as akademiese taal gelewer – dit uit bewondering vir wat Afrikaans bereik het en om ander inheemse tale aan te moedig. Talle organisasies verrig wondere rakende veeltaligheid, ook LitNet met hul vyftalige monoloogprojek tesame met die Suidoosterfees, ATKV en NATi.
Die ATM se een missie is om miskende geskiedenisse van Afrikaans na te vors as deel van ’n groter dekolonialiseringsproses. Selfs belangriker is om hierdie vollediger verhaal onder Suider-Afrikaners se aandag te bring, want die onkunde spook. Tog het die instelling al baie bereik om die wortels van die taal, wat in 1595 as ’n kontaktaal tussen Nederlandse matrose en die Khoekhoen geskep is, aan die groot klok te hang.
Tans is daar ’n Khoekhoen-Afrikaanse uitstalling by die monument, word ’n Arabies-Afrikaanse werkswinkel en kompetisie aangebied en het die instelling byvoorbeeld Gariepafrikaans gekarteer, talle skryfwerk in Kaaps-Afrikaans uitgestal en rieldanskompetisies verwelkom. Onlangs is ’n protespoësie-werkswinkel ter ere van Jeugdag gehou: Die fokus was op Afrikaanse digters wat onderdrukking prontuit aanvat, en die oorwegend jong deelnemers kon die taal gebruik om húl kwessies te belig. “Die talent wat daar geskyn het, gee my steeds hoendervleis, 12/14-jarige dogters wat dig oor verkragting…,” het een deelnemer op Facebook geskryf. In 2021 is die monument se bouers vereer en lewenslange gratis toegang gegee, en in 2016 het die ATM die Rehoboth Bastergemeente in Namibië om verskoning gevra omdat die instelling hul gelukwensing in 1975 geïgnoreer het. Beide gebare is met ope arms verwelkom.
Intussen gaan die ATM se Neville Alexander-prestige–eerbewyse voort om hierdie aktivis te eer deur rolmodelle, wat Afrikaans as ’n medium gebruik om nasiebou te bevorder, by te staan. ’n Onlangse wenner was Gaireyah Fredericks danksy haar Moedertong-werkswinkels vir skeppende skryfwerk, haar bevordering van die taal onder Moesliem-sprekers en omdat sy jong skrywers aan literêre feeste blootstel. ’n Ander wenner was Suzie Matlhola, wat onder meer Afrikaans verder aangeleer, gratis naskoolse Afrikaanse klasse aan leerders in Soweto begin gee en ’n ATKV-damestak in Soweto gestig het.
Die herstandaardisering van Standaardafrikaans – ’n taalvariëteit en toenemend Algemene Afrikaans genoem – gaan volstoom voort om erkenning te gee aan ’n ryker woordeskat (“treasure of words” soveel mooier as vocabulary of hoe). Kaaps-Afrikaans blaas ook nuwe lewe in die taal en vorm deel van die debatte oor Afrikaans se visuele identiteit. Dit is nie eie aan Afrikaans nie: Ander kreooltale in Afrika – Réunionees, Seychellois en Mauritiaans – het soortgelyke debatte oor of die ortografie meer oorspronklik (Afrikaans) of Europees moet lyk.
Tree aan boord van Facebook waar die groepe oor Arabiese-Afrikaans, Afrikaans HipHop SA en How to Learn Afrikaans hoofsaaklik bruin en swart Suid-Afrikaanse volgelinge het vir wie die taal nie negatiewe beelde oproep nie; inteendeel, hulle neem (weer) eienaarskap van Afrikaans. Woorde soos “groot man”, “papgeld”, “lekker”, “braai” en “kwaito” dans op die meeste Suid-Afrikaanse tonge, om nie eens te praat van die Afrikaanse leenwoorde in die ander inheemse tale nie, nes Afrikaans van hulle geleen het. In Namibië ontwikkel ’n nuwe “swart Afrikaans”, vry van ’n Europees-gerigte sanering. Boonop is die leiers van talle Afrikaanse kultuurverenigings lankal nie slegs wit of manlik nie.
Op die snelgroeiende korpus van Afrikaanse musiek, toneel, literatuur, TV en flieks is daar altyd juwele te vinde soos Refentse, Yoma, Churchill Naudé, Rodney Goliath, Dianne du Toit Alberze, Lynthia Julies en Ashwin Arendse wat Afrikaans verbreed en vernuwe. KRO-Barz se DIE IN DING – Is Afrikaans Rap en dokumentêre films The Voice Behind The Wall | Die ongetemde stem (2022) gee ’n stem aan oorspronklike kunstenaars wat baie beter verdien. Virtueel gesproke is daar derduisende webtuistes: LitNet Akademies lewer fantastiese Afrikaanse navorsing terwyl Ons Klyntji steeds op die buitewyke en voorhoedes van die taal baljaar.
Al die bogenoemde is net die ore van die seekoei, maar die inisiatiewe word raakgesien. Dít en als wat op talle taalfronte gebeur skep nuwe fondamente waarop toekomstige Afrikaanses kan staan.
Die regering aanvaar dat Afrikaans ’n inheemse taal is en die onderwysdepartement het inisiatiewe geloods om beter moedertaalonderrig, al is dit beperk, te bewerkstellig. Terselfdertyd is daar die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys wat dalk die teenoorgestelde effek kan hê, veral as sommige politici steeds Afrikaans beskou as die hond wat geskop kan word as hulle moerig is. Nes ’n vorige spul dit tot ’n heilige koei verhef het. “It’s all been spoiled by politics,” sou Blokkies Joubert mymer, maar hierdie dinge gaan met tyd en werk regkom. Inheemse tale is tog ’n bate, nie ’n las nie.
Wat in die ATM se guns tel, is dat dit langer in ’n demokratiese Suid-Afrika as onder apartheid bestaan, dat Afrikaans Suider-Afrika se mees veelrassige moedertaal is (lees: baie boeiende skeppingsverhaal), na die kontinent vernoem is (uniek) en dat segregasie nooit by die instelling toegepas is nie (ten minste rakende besoekers). Afrikaans was nooit ’n wit taal nie en taal kan in ieder geval nie ’n kleur hê nie – dit lyk bloot asof die wêreld dit nog nie (wil?) besef nie.
Siende dat meer as 95% van “wit” Afrikaanses boonop swart, veral Wes-Afrikaanse, Khoi en Asiatiese bloed in hul are het, is die idee van ’n wit taal totaal absurd – dit is eerder die babelas van ’n post-Britse kolonialisasie se minderwaardigheidskompleks wat praat. Iets waaraan die meeste gekolonialiseerde mense steeds ly in ag genome hoe koloniale tale tot die alfa en omega verhef is. As daar Afrikaanses is wat nie met die eerste agt letters van die woord self kan identifiseer nie, dan is dit miskien beter dat hulle inval by ’n globale, eentalige Amerikaans-Engelse eksistensie, ’n armoediger en telkens kitskultuurbestaan. Eina.
Dis moeilik om al die verwikkelinge te peil, want op soveel plekke gebeur soveel dinge. Oor 150 jaar sal Afrikaans anders klink en lyk, so ook Tshivenda en Engels, isiXhosa en Japannees. Nes hulle almal 150 jaar gelede anders was. Solank as wat daar Afrikane is wat ’n klankverbond met die kontinent en voorouers adem, solank sal onse tale op een of ander skeppende manier voortgaan.
Soms fokus ons maklik op wat verkeerd was en is – 1976, toenemend eentalige onderwys, mikroaggressies teen Suid-Afrikaners “wat nie Engels genoeg is nie” of gewone mense wat deur die wapen van Engels uit ekonomiese, politieke en opvoedkundige geleenthede geweer word. Ons beleef immers een leeftyd en kyk gewoonlik daarin vas.
Maar as Afrikaans se volle geskiedenis sedert 1595 bekyk word, sal ’n taal wat Nederlandse en Britse kolonialisering oorleef het, ook apartheid oorleef. Daardie interne, wit kolonialisering van Afrikaans sal danksy die verloop van geskiedenis en demografie bloot as ’n vlietende fase in die taal se ontwikkeling gesien word, want die normalisering is volstoom aan die gang.
Eisj, ek het sommer al heimwee vir die toekoms.
Oor Afrikaans
“Wat die taal bereik het, is ‘n prestasie vir ons hele nasie en in ons pogings om ander tale te ontwikkel en gelyk te stel, moet ons versigtig wees om nie te vernietig wat Afrikaans as taal bereik het nie,” het Nelson Mandela gesê. So het baie ander, bekend en minder bekend. ook al iets te sê gehad oor Afrikaans:
- “Afrikaans was betrayed by the Afrikaner political elite, which turned it into a bludgeoning instrument for oppressing people. That was not its origins; it was not its use.” – Dele Olojede
- “Herewith the principal and the staff as well as the learners, especially the grade 6 classes, of Nieuwe Drift Primary would like to show our gratitude towards the fruitful educational session you and your staff [from the ATM] had with our learners. The learners learned so much about the Afrikaans language, but most of all our Afrikaans-speaking learners learned how to interact with their fellow learners, who’s home language is not Afrikaans. We as teachers were so excited to hear the Shona (Zimbabwe) and isiXhosa speaking learners read and pronounce the Afrikaans words that you discussed during the session. For the first time I heard our English class learners try to speak Afrikaans. That was really amazing. With sessions like these we can keep Afrikaans alive. Thank you so much.” – Mariana Kuphiso
- “As ’n jong swart meisie was en is Afrikaans deel van my. Ek verkies dat dit my eerste taal is, want dit is die taal wat ek makliker vind om te praat as enige ander taal. Ek het grootgeword in ’n omgewing waar Sesotho gepraat word, en ja, ons huistaal is Sesotho.” – Kananelo Mokoena
- “When I opened up my eyes to the fact that Afrikaans is a mother tongue mostly for Black people in this country… It blew my mind! It has left a desire in me to learn Afrikaans and engage with it as a Black language.” – Lebogang Mashile
- “Om Afrikaans as taal te klassifiseer, is dus ’n kwessie van norm. In die geval van ’n geografiese vertrekpunt is Afrikaans ’n Afrikataal wat hier ontstaan en ontwikkel het en die naam van die vasteland weerspieël (die enigste taal in Afrika waarby dié kenmerk voorkom). In die geval van ’n genealogiese benadering is dit ’n Indo-Germaanse taal (verlangs selfs verwant aan Hindi), en meer spesifiek Wes-Germaans, wat onderlinge verstaanbaarheid met tale soos Nederlands en (in ’n mindere mate) Duits moontlik maak. Vanuit ’n kreoliseringsbenadering het Afrikaans voortgekom uit ’n kontaksituasie waarin sprekers van sowel verwante as onverwante tale hulle stempel gelaat het op dit wat uiteindelik deur hulle nageslag as moedertaal oorgedra is. Die variasie wat Afrikaans weerspieël, is in ’n groot mate ook die gevolg daarvan. Geopolities is Afrikaans ’n inheemse taal van Suid-Afrika, met al sy variëteite, en deel die leefruimte met tale wat genealogies as Sintu-tale beskryf kan word.” – Ernst Kotzé
- “The fourth assumption is that the Afrikaans language is one of the cultural treasures of South African national life, widely spoken and deeply implanted, the vehicle of outstanding literature, the bearer of a rich scientific and legal vocabulary and possibly the most creole or ‘rainbow’ of all South African tongues…Stripped of its association with race and political dominance, cultural diversity becomes an enriching force which merits constitutional protection, thereby enabling the specific contribution of each to become part of the patrimony of the whole.” – Albie Sachs
- “Afrikaans was labelled ‘the language of the oppressor’. The slogan was rightly an emotive, visceral response to Afrikaner ethnic, nationalist hegemony and its concomitant coercive state power. However, it also obscured the experiences, lives and histories of black and non-nationalist Afrikaans speakers.” – Dr Google se reaksie op “Is Afrikaans the language of the oppressor?”
Bykomende bronne
Barakat-program: Eis jou moedertaal terug
Cape Malay-uitdrukkings – ’n Jawaab-glossary
The filmmakers advancing a radical Black Afrikaans
“Dala Afrikaans!” – die geboorte van ’n nuwe taalbeweging
Believe it or not, Afrikaans is black
Afrikaans is my taal en ek is Afrikaans – EKM Dido
Nuwe Tesourus ‘wys hoe Afrikaans elke dag groei’
Skryf Afrikaans van A tot Z: ’n onderhoud met Sebastian Pistor
Journal articles on the topic “Language policy – South Africa – Eastern Cape”
Taalmonument of Toring van Babel?
Hoekom Afrikaans? – Danie Langer & Chrisna Nel (Uitgegee in 2014)