Wingerd, vrugte en kruie…Die Afrikaanse Taalmuseum het ʼn pragtige klein wingerd in die agterplaas wat uit 50 stokke Steen en 50 stokke Hanepoot bestaan. Dit is in 1979 deur dr Dirk Kotze, die eertydse hoof van die museum, geplant ter herinnering aan Gideon Malherbe, wingerdverbouer en die oorspronklike eienaar van die woonhuis waarin die museum nou geleë is. Op ʼn historiese foto wat agter die woonhuis van Malherbe geneem is, kan die plaas wat destyds rofweg vanaf Hoofstraat tot by die Bergrivier gestrek het, gesien word. Vrugtebome is op die foto aanwesig en die kurator het dit goed gedink om weer vrugtebome in die tuin (die wingerd is piepklein vergeleke met 140 jaar gelede) te plant. Daarom is hierdie lente ʼn appel-, peer-, lemoen-, suurlemoen-, nartjie-, vye-, kweper- en amandelboom geplant. Mag dit groei en vrugte dra!
By die Taalmonument is ons besig om stelselmatig die tuine te rehabiliteer en nuwe ervarings in die bestaande tuine te skep. Dit sluit ook die aanplant van inheemse kruie soos boegoe, wilde dagga, aalwyne en kooigoed in, wat met inligtingsborde toegelig sal word vir opvoedkundige doeleiendes. Die ‘taaltuiniers’ het indringerplante afgesaag en houtrame daarmee gebou wat opgevul is met kompos en die plante. Ekovriendeliker kan dit nie, so kom kyk met nuwe, groen oë na wat ons vermag – dit sal jou groen van jaloesie laat.

[Best_Wordpress_Gallery id=”20″ gal_title=”Groen”]