Die kaart gee ‘n aanduiding van die teenwoordigheid van Khoekhoenkrale, bing.com/image

In 1685 het die VOC besluit om, tot voordeel van landbou en die garnisoen, Hugenote na die Kaap te stuur. Die Hugenote – hoofsaaklik boere, plaasarbeiders of ambagslui – wat Kaap toe wou kom, sou grond ontvang en moes vir minstens vyf jaar vertoef. Ná hul aankoms is hulle na Drakenstein, Stellenbosch en Franschhoek geneem. Hulle het saad, gereedskap en vee ontvang, wat aan die Kompanjie terugbetaal moes word. Hulle is tussen gevestigde boere in daardie distrikte geplaas om gouer by die Nederlandssprekende kolonialiste aan te pas. Die Franse is vinnig in die gemeenskap opgeneem en teen 1740 was Frans nie meer die gebore kolonialiste se moedertaal nie. Saam met die Khoekhoen en die slawe het hulle tot die defleksie en vereenvoudigingsproses van Kaaps-Hollands bygedra waaruit Afrikaans geskep is.

Die besluite van die VOC het egter verreikende gevolge vir die leefwyse van die Khoekhoen in veral Drakenstein, Swartland en die Land van Waveren (Tulbagh) gehad aangesien die gebied toe nog deur die Cochokwas bewoon is. Mettertyd het die koloniale besetting van die Khoekhoen se weivelde en jagvelde tot verset gelei. Die Khoekhoen se verset van 1701-1703 kan juis terug gevoer word na die oopstelling van privaat landbou in 1687.

Indringers en verset

Die indringing van Hugenote-kolonialiste op die weigrond van die Khoekhoen is nie deur alle herders aanvaar nie. Kaptein Dikkop het byvoorbeeld in 1690 geweier om uit ‘n weidingsgebied te trek wat hom voor die goewerneur en sekunde laat beland het. Talle klagtes oor Khoekhoenkrale en oor hul vee wat landerye en wingerde sou beskadig het, is ingedien. Hul verset was nooit teen die Hugenote as sulks gerig nie, maar teen die besetting van hul jag- en weidingsgebied. Teen 1705 kon geen krale meer langs die Bergrivier gevind word nie. Dit was die gevolg van VOC-besetting van die gebied en ook omdat die Khoekhoen uit vrees vir veebuitery deur kolonialiste, weggetrek het.

Die Hugenote het ook op die terrein van veeruil spanning meegebring. Dit was weens die VOC se posisie as ‘n handelsmaatskappy en as synde ‘n owerheid wat alles met proklamasies wou reguleer. Dit is egter nie deeglik beheer nie. ‘n Plakkaat van Februarie 1696, byvoorbeeld, het die kolonialiste van Drakenstein vermaan weens hul verontagsaming van die verbod op veeruil. In kriminele hofstukke van die tyd kom Franssprekende persone se name dikwels in hierdie verband voor. Soos die Khoekhoen hul jag- en weigebiede aan kolonialiste moes afstaan en hul veekuddes afgeneem het, is hulle in die koloniale arbeidsmag ingetrek en moes hulle gedwonge hiermee hul leefwyse prysgegee.

Bronne:
Die Storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika Deel 2, WAM Carstens en E. H Raidt Protea Boekhuis Pretoria 2019
Khoisan versus Hugenote, 1688 – 1713, HC Bredenkamp Kronos, p 21-29, 1989, University of Western Cape