Die amptelike wegspring van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se 45ste vieringe het op Donderdag, 6 Februarie, plaasgevind toe ʼn groep uitgelese gaste die feesbekendstelling bygewoon het. Verteenwoordigers van verskeie kultuurorganisasies, plaaslike munisipaliteite, onderwysdepartemente, museums, borge en mediahuise het saam met die personeel en raadslede van die Taalmonument hul glase geklink op die vordering wat Afrikaans en die instelling die afgelope 45 jaar gemaak het. Die heerlike verversing, versnapering en puik vermaak (deur Paarl Vallei Eisteddfod, Marco Mentoor en Willem Fransman jr) het ʼn gesellige middag verseker wat die taalgemeenskap se samesyn en sin vir humor beklemtoon het.

Die direkteur, Michael Jonas, het ʼn kort oorsig oor die instelling gegee waartydens hy verduidelik het hoe die ‘eksklusiewe’ geskiedenis van die monument omgeswaai is in ʼn ruimte waar verhoudings tussen Afrikaanssprekendes genees en maatskaplike samehorigheid, ook met die groter Suid-Afrikaanse bevolking, bewerkstellig word. Raadslid Kobus du Plessis, burgemeesters-komiteelid vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme van Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, het daarna klem gelê op die belang van kleiner kultuurgroepe om nie net na binne te kyk nie, maar ook om hul kultuur op ʼn positiewe manier uitwaarts te straal. Volgens hom is die instelling ʼn groot nasionale en internasionale toerisme-trekpleister wat help om Afrikaans in ʼn positiewe lig stel.

Hy is opgevolg deur raadslid Laurichia van Niekerk, burgemeesters-komiteelid vir kuns en kultuur van die Drakenstein Munisipaliteit, wat die Taalmonument se toerisme-belang vir die gebied belig het. Volgens haar vervul dit boonop toenemend ʼn belangrike rol vir die plaaslike gemeenskap, veral danksy die instelling se bemagtigingsprojekte. Die aandag is ook gevestig op die jongste uitstalling, ‘Grondwoorde’, in die Groen Galery sedert 1 Januarie 2020 waarin Afrikaanse gedigte van KwaZulu-Natalse leerders (baie van hulle met ʼn Zulu- en Hindoe-agtergrond) uitgestal word.

Ons dank, weereens, aan almal teenwoordig, veral die media en borge. Vir besonderhede oor vanjaar se propvol program, sien www.taalmuseum.co.za/feesprogram-1975-2020/