Vandag vier ons die dag in 1994 waartydens nie net alle Suid-Afrikaners nie, maar ook Afrikaans bevry is. Ter ere hiervan en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se 45ste bestaansjaar, het die voorsitter, prof Elvis Saal, die volgende rede aan die raad gelewer.

Die 45ste vieringe van die ATM het op 6 Februarie begin met die bekendstelling van die feesvieringe. Ons het ‘n opwindende verjaarkalender opgestel wat ʼn hoogtepunt bereik met ‘n baie elegante verjaardagbal op 10 Oktober 2020, presies 45 jaar nadat die monument ingewy is.

Sulke vieringe gee ‘n mens stof tot nadenke: om terug te kyk, maar ook om vorentoe te kyk. Ons is almal bewus van die omstrede geskiedenis van die monument in die besonder. Die museum het egter nooit dieselfde omstredenheid en sporadiese bespotting as dié van die monument ontlok nie. Die sigbare ‘verering’ van ‘n taal deur ‘n tasbare struktuur, soos ‘n monument, was destyds ongewoon. Die oprigting en inwyding van die monument is in omstredenheid gebore en het die verdeeldheid in die Afrikaanse taalgemeenskap verdiep. Die monument is gesien as ‘n simbool van Afrikanernasionalisme – ‘n sigbare en voortdurende herinnering aan die apartheidsideologie, asook die pyn, hartseer, vernedering en vervreemding wat mede- swart Suid-Afrikaners moes verduur. Ons ken die geskiedenis en is almal bewus van die diep verdeeldheid wat in die Afrikaanse gemeenskap ontstaan het.

Dit is ‘n verlede wat ons nie kan ontken nie, maar ek glo dat ons dit moet gebruik om onsself te herinner om nooit weer terug te gaan na ‘n plek waar ons verdeel, eerder as om te verenig, waar ons pyn veroorsaak, eerder as om genesing te bring, waar ons mense weens ons (taal)ideologie wegstoot, eerder as om in te sluit, waar diversiteit ‘n las, eerder as ‘n bate word, nie. Die erfenislandskap is soveel anders as 30 of 40 jaar gelede: ons word daartoe geroep om agente van verandering te wees, en ons moet ‘n integrale rol speel om maatskaplike samehorigheid en nasiebou teweeg te bring.

Ons kan nie die rede wees dat hierdie projek misluk nie. Ons het die verantwoordelikheid om te lei, ons het die verantwoordelikheid om aan Suid-Afrikaners te toon hoe maatskaplike samehorigheid bereik kan word. Ons het die verantwoordelikheid om ons Afrikaanskap (“Africaness”) te demonstreer en uit te leef.

En ons kan dit doen deur in ons gemeenskappe te begin deur ons Afrika-narratief op te eis; ons is in Afrika, nie in Europa nie, so laat ons dus nie verskonend wees nie oor ons Afrikaans wat in Afrika geleë is. Dit is tyd om die Afrika-narratief van Afrikaans op te eis. As ons mense van Afrikaans vertel, dan vertel ons hulle die verhaal van Khoi-Afrikaans, dit begin nie met Jan van Riebeeck in 1652 nie. Afrikaans het vorm aangeneem in die monde van die Khoekhoe al sedert 1595.

Laat ons onbevange die alternatiewe narratief van Afrikaans verkondig en hierdie narratief na die hoofstroomdiskoerse van Afrikaans bring. Ons Afrikaans is die verhaal van ‘brokwa’ – die Khoi-woord vir ‘broodgoed’. Dit is die verhaal van hoe gestigmatiseerde vorme soos ‘die’, ‘ons’ en ‘ek’ wat vir die eerste keer deur die slawe en Khoekhoe gebruik is, vernederlandse Afrikaans (later bekend as Standaardafrikaans) betree het. Dus, wanneer ons die verhaal van Afrikaans aan besoekers, aan ons eie Suid-Afrikaners vertel, vertel ons dit sonder vrees of vooroordeel vanuit ons Afrika-, ons dekoloniale, wêreldbeskouing.

Wat beteken dit vir die museum en die monument? Ek daag ons almal hier uit om ons narratiewe te herinterpreteer, opnuut daaroor na te dink. Is dit steeds nodig om met Europa te begin, terwyl taalontwikkelings hier op Afrika-grond plaasgevind het? Waarom kan ons nie ons vertelling met die Khoekhoe en die slawe begin nie? Waarom kan ons nie ons diversiteit opeis en trots daarop wees nie? Waarom moet ons verhaal van Afrikaans in Afrika altyd tweede viool speel vir die Europese verhaal van Afrikaans?

Ons moet, meer as ooit tevore, Afrika weer terug in Afrikaans plaas. Meer nog, ons moet ons eie verhale vertel as synde Afrikaans in Afrika – verhale oor ons belewings as Afrikane in en deur Afrikaans.

My boodskap aan die raad en bestuur is: Eis jou Afrika-narratief op en eis dit op in Afrikaans. En laat ons aanhou om die wêreld te wys dat Afrikaans, die ATM, nie meer ‘n simbool van ‘onderdrukking’, ‘apartheid’ en ‘verdeling’ is nie. Die gedekolonialiseerde ATM en Afrikaans het ‘n nuwe verhaal, ‘n Afrika-narratief, om te vertel. Hierdie nuwe herposisionering van die ATM is tekenend dat die ATM nog vir baie jare ‘n belangrike rolspeler in die erfenislandskap sal bly.

Sjoekran. Trammakassie. Ek dank u.

Elvis Saal

Voorsitter: Raad van die ATM