Die grondslag van die wynbou in Suid-Afrika vind plaas op 22 Julie 1655 toe die eerste wingerdstokke (hoofsaaklik van Duitsland en Frankryk) die Kaap bereik het. Op 2 Februarie 1659 is die eerste druiwe in die Tafelvallei gepars.
 
Hierna het wynbou uitgebrei na Wynberg en Rondebosch en toe Stellenbosch en Drakenstein in die latere gedeelte van die 1600’s. Die aantal wingerdstokke was minder as ʼn 100 in 1655 maar teen 1700 reeds meer as een en ʼn half miljoen. Wynbou het naas graanbou die vernaamste plek ingeneem in die Kaapse ekonomie teen die einde van die 1700’s.
 
Teen 1822 was meer as 90% van druiweverbouing die van Groendruiwe. Die rede hiervoor is dat dit ʼn goeie draer was en redelik immuun was teen swartroes wat op daardie tydstip die bekendste Kaapse wingerdsiekte was. Die meeste wynboere het meer as een druifsoort aangeplant en die druiwesoorte is afsonderlik geplant, behalwe die Rooi en Wit Groendruiwe wat meestal deurmekaar geplant is. In die tydperk van 1795 tot 1860 het die meeste wynboere hul wingerde op laagliggende grond langs riviere geplant, moontlik omdat die grond daar makliker bewerkbaar was en dalk ook omdat dit klammer was en besproeiing makliker gemaak het.
 
Gedurende Junie en Julie is die wingerde gesnoei. Bemesting is in die wintermaande vanaf Junie tot Augustus toegedieen. In Augustus het die werkers gekyk of daar ruspes en kalanders in die wingerd is. Vanaf September is die wingerde getop en vanaf Oktober is die wingerde geskoffel. Sommige boere het ná mid-Desember van die blare laat afpluk om die trosse meer son te gun. Gedurende Januarie en Februarie het die druiwe ryp geword en teen middel Februarie het die boere begin pars.
 
Die vernaamste wynsoorte teen 1795 wat aan die Kaap geproduseer is, was Kaapse Madeirawyn, Steenwyn, Hanepootwyn, Kaapse Mallaga, Vintint, Moselle, Vin de Grave, Kaapse Hockwyn, Rooi en Wit Muskadelwyn asook Constantiawyne. Teen 1855 is 13 wynsoorte plaaslik geïdentifiseer, naamlik Kaapse Madeirawyn, Sjerrie, Hanepootwyn, Steenwyn, Constantia Hockwyn, gewone Hockwyn, Rooi Pontakwyn, Muskadelwyn, Rooi Jerepigo, Wit Constantiawyn, Rooi Constantiawyn, Constantia Wit Frontignacwyn en Constantia Rooi Pontakwyn. Later is daar hoofsaaklik op droëwyne gefokus waarskynlik omdat die Europese verbruikers dit bo soetwyn verkies het.
 
Wyn word in natuurlike wyn, gefortifiseerde wyn en gedistilleerde wyn verdeel. Natuurlike wyn kan rooi, wit of rosé wees en word na gelang van die aanwesigheid van koolsuurgas stilwyn, vonkelwyn of perléwyn (halfvonkelwyn) genoem. Gefortifiseerde wyne sluit sjerrie, port, dessertwyne en vermoet in, terwyl gedistilleerde wyne in brandewyn en wynspiritus (vir die maak van likeurs) verdeel word. Die vernaamste onderskeid tussen natuurlike wyn en gefortifiseerde en gedistilleerde wyn is die alkoholinhoud.
 

Droog en soet

 
Wyn wat geen suiker bevat nie, word droë (sec) wyn genoem, maar indien dit ‘n klein hoeveelheid suiker bevat, word dit halfsoet (semi-soet, effe-soet) genoem. Fortifikasie is die proses waardeur suiwer wyn- of brandewynspiritus by ‘n natuurlike wyn gevoeg word om sodoende die alkoholinhoud te verhoog en die wyn langer behoue te laat bly.
 
Wynbereiding bestaan hoofsaaklik uit die gisting van vars druiwesap, wat verkry word deur die druiwe wat geoes is te pars. Die reingis (spesiaal gekweekte gisselle) wat bygevoeg word, sit die suiker in alkohol en koolsuurgas om; indien die suikerinhoud hoog genoeg is, sal die gisselle ‘n alkoholinhoud van 15% per volume veroorsaak, waarna hulle sal vrek. Die gistingsproses geskied by temperature van tussen 12 en 15°C vir witwyn en tussen 15 en 20°C vir rooiwyn, maar as die mos té warm word, kan dit in asyn verander.
 
Die gisting duur tussen 10 en 14 dae en geskied in oop en geslote tenks vir onderskeidelik rooi- en witwyn. Wanneer die gisselle sterf, sak dit as droesem na die bodem van die tenks. ‘n Tweede gisting word soms teweeggebring deur die toevoeging van suiker en nog gisselle, byvoorbeeld by die maak van vonkelwyn. Indien ‘n bepaalde suikerinhoud in die wyn verlang word, soos by halfsoet tafelwyn, kan die gisting kunsmatig stopgesit word deur verkoelings-, pasteurisasie- of filtrasieprosesse.
 
Nadat die jong wyn gefiltreer is (een of meer male, na gelang van die verlangde gehalte), word die helder vloeistof in groot vlekvrystaaltenks (witwyn) of houtvate (rooiwyn) verouder, meestal vir 6 maande tot 2 jaar. Sommige rooiwyne word teenswoordig egter ook in staaltenks verouder. Ná die verouderingsperiode word die wyn soms versny (met ander wyne vermeng) en dan gebottel.
 
In die argief van die Afrikaanse Taalmuseum is daar ʼn fraai boekie “De Wijnbereiding” gedateer 1883. Die boekie verskaf ʼn Recept om Rijnschen Wijn te maak sowel as ʼn Recept om Madeira en Sherry Wijn te Maken uit Roode en Witte Groendruif. Daar is ook inligting om Ongefermenteerden Wijn te Maken, die maak van Hock of Witte Wijn, ʼn Recept om Zoeten Wijn te Maken, sowel as inligting om wyne soos Sjerrie, Madeira, Hock, Port Wijn en Klaret te maak. Die heer PA le Roux van die Paarl se resep vir Madeira Wijn word ook verskaf. Verder het die boekie ook resepte vir die maak van Hermitage uit Roode Fransche Druif sowel as vir Cognac of Fransche Brandewijn. Daar is ook ʼn Recept om Een Bereidsel te Koken van Isingglass, Gelatine of Trajan. Selfs die skoonmaak van vate word vermeld.
 
Huis Gideon Malherbe, oftewel die Afrikaanse Taalmuseum, beskik oor ʼn klein wingerd wat in 1979 aangeplant is ter herinnering aan Gideon Malherbe wat ʼn wynboer was. Daar was selfs ʼn stookketel in die kelderverdieping van sy huis, maar wat daarvan geword het na sy dood is onbekend.
 
Bronne: Kaapse Wyn en Brandewyn 1795-1860 DF van Zyl HAUM 1974, De Wijnbereiding 1883, Wikipedia
 
www.taalmonument.co.za
Die webtuiste bied virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin (tans aangebied teen ʼn 20%-afslag), wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.