Die Britse Lord Charles Somerset het vanaf 1820 die verengelsingsbeleid wat deur sy koloniale voorganger ingestel is, versnel. Somerset het Skotse predikante en onderwysers ingevoer om die burgers Engels te leer. In 1822 het Somerset ook begin om Nederlands as bestuurs- en regstaal deur Engels te vervang. Onder Somerset het Engels die enigste amptelike taal van die Kaapkolonie geword.

Daar het egter ‘n beweging in die laat 1800’s ontstaan ter bevordering van Afrikaans as lees- en skryftaal, en om die Bybel in Afrikaans te vertaal. In 1914 is Afrikaans as onderrigmedium in skole erken. Teen 1918 is daar in ’n hoofartikel van De Burger oor die vordering van Afrikaans geskryf dat die jonger geslag, wat voorheen verkies het om in Engels te skryf, nou in Afrikaans skryf. In die tweede helfte van daardie jaar is Afrikaans ook vir die eerste keer tot ‘n universiteitsvak verhef. 

In 1909 is die “Zuid-Afrika Wet” waardeur die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei 1910 tot stand sou kom, aanvaar. Art. 137 van die Unie-grondwet het as volg gelui:

De engelse alsmede de hollandse talen zijn officiële talen van de Unie. Zij worden op een voet van gelijkheid behandeld en bezitten en genieten gelijke vrijheid, rechten en voorrechten. Alle akten, verslagen en verrichtingen van ‘t Parlement worden in beide talen gehouden, en wetsontwerpen, wetten en kennisgevingen van algemeen publiek gewicht of belang door de Regering van de Unie uitgegeven, zijn en geschieden in beide talen.”

‘n Hoogtepunt vir die voorstanders van Afrikaans was die erkenning van Afrikaans as amptelike taal van Suid-Afrika. Op 8 Mei 1925 is in ‘n gesamentlike sitting van die Unie-Volksraad en die Senaat die wet op “de Officiële Talen van de Unie” eenparig aangeneem. Wet nommer 9 van 1925 het as volg gelui:

“Nademaal er twijfel ontstaan is aangaande de betekenis van het woord “Hollandse” in de Zuid-Afrika Wet, 1909; en nademaal het dienstig is die twijfel weg te nemen; zij het bepaald door Zijn Majesteit de Koning, de Senaat en de Volksraad van de Unie van Zuid Afrika als volgt:

1. het woord “Hollandse” in artikel honderd zeven en dertig van de Zuid-Afrika Wet, 1909, en elders in de Wet waar dat woord voorkomt, word hierbij verklaard het Afrikaans in te sluiten.

2. Deze Wet kan voor alle doeleinden worden aangehaald als de Wet op de Officiële Talen van de Unie, 1925, en word geacht van kracht geweest te zijn vanaf de een en dertigste dag van Mei 1910.”

In 1994 het Suid-Afrika ‘n nuwe grondwet gekry. Artikel 6 van hierdie grondwet het bepaal dat elf tale, as amptelike tale erken word. Daar is verder bepaal dat die taalregte (van Afrikaans en Engels) wat voor 1994 bestaan het, nie aangetas sou word nie. Sedert 2022 is Suid-Afrikaanse Gebaretaal op koers om binnekort die land se twaalfde amptelike taal te word.