Website TemplatesJoomla TemplatesWeb Hosting
Wie ons is

Wie ons is

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) is geleë in die Paarl, Wes-Kaap, Suid-Afrika. Die museum en die administratiewe kantoor is in Pastorielaan en die monument is op Paarlberg.

Mandaat
Die destydse Minister van Opvoeding het kragtens die bevoegdheid aan hom verleen deur artikel 3 van die vorige Wet op Kulturele Inrigtings, 1969 (Wet 29 van 1969), die ATM, Paarl, tot ’n instelling verklaar wat met ingang van 1 Junie 1977 onder die bepalings van genoemde Wet val. Sedertdien is die Wet op Kulturele Inrigtings van 1969 met die Wet op Kulturele Instellings, (Wet 119 van 1998) vervang. Die ATM ontvang ʼn jaarlikse subsidie van die departement van kuns en kultuur.

Visie
Die visie van die ATM is om die nasionale Afrikaanse Taalmuseum en -monument só te bedryf dat alle Suid-Afrikaners Afrikaans kan respekteer en waardeer.

Missie
Die missie van die ATM is om:
• deur middel van Afrikaans, binne ’n konteks van veeltaligheid, verhoudinge met alle Suid-Afrikaners te bou;
• toepaslike materiaal en inligting wat verband hou met die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans in te samel;
• navorsing te doen wat die kennis oor Afrikaans sal verdiep en verbreed;
• die ontstaan, ontwikkeling, nut en uitbou van Afrikaans uit te beeld en daardeur besoekersinteraksie te stimuleer;
• blootstelling te gee aan die verskillende fasette van Afrikaans deur middel van lesings en artikels;
• Afrikaans op alle vlakke van die samelewing te bevorder en te stimuleer deur die aanbieding van opvoedkundige programme, begeleide toere en kulturele aktiwiteite;
• die ATM volgens gesonde finansiële beginsels te bestuur en om die ekonomies selfstandige bedryf daarvan na te streef;
• besoekersgetalle te verhoog en fondse in te samel; en
• om die ATM se kultuurhistoriese geboue en erfenisterreine en die erfenis van Afrikaans in stand te hou tot nut van besoekers.

Waardes
Die ATM beywer hom vir die welstand van Afrikaans in die Suid-Afrikaanse samelewing. In hierdie gees wil ons Afrikaans veral onder die jeug en niemoedertaalsprekers aanmoedig en ondersteun. Ons poog deurlopend om wedersydse respek tussen Afrikaans en ander inheemse tale te bewerkstellig deur onder meer die wedersydse invloed van verskillende tale op mekaar te erken.

Ons streef daarna om altyd openhartig en deursigtig te werk te gaan. Hoë standaarde word gehandhaaf in die opvoedkundige aanbiedings vir leerders en ander besoekersgroepe. Sterk klem word daarop gelê om binne die raamwerk van die toepaslike wetgewing en die neergelegde reëls en beleide op te tree.

Om te oorleef en te floreer en terselfdertyd ’n hoë standaard van werkverrigting te behou, streef ons ’n hoë mate van integriteit, betroubaarheid, deursigtigheid en professionaliteit na.

Projekte
Ons is deurlopend by verskeie projekte betrokke, waaronder die Namakwaland Mondelinge Erfenisprojek en die jaarlikse Museum-en-erfenisekspo.

Meer inligting: Catherine Snel tel. +27 (0)21 872 3441 of e-pos Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien (Namakwaland Mondelinge Erfenisprojek)
Isabeau Botha tel. +27 (0)21 872 3441 of e-pos Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien (Museum-en-erfenisekspo)

Opvoedkundige programme
Ons beloof 'n onvergeetlike ervaring vir leerders van alle ouderdomme. Opvoeders kan uit kurrikulumgebaseerde onderwerpe kies en werkskaarte word verskaf. Ons beveel aan dat leerders die museum én die monument besoek. Spesiale opvoedkundige geleenthede word op herdenkingsdae aangebied. Laai die Raamwerk van opvoedkundige programme af.

Meer inligting: Catherine Snel tel. +27 (0)21 872 3441 of e-pos Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien

Openbare programme
Ons bied ‘n verskeidenheid van programme aan, insluitend volmaanpieknieks, sterrekykaande en Ommietafel met stories (as deel van die Paarl Cultivaria-fees).

Meer inligting: Isabeau Botha tel. +27 (0)21 872 3441 of e-pos Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien

Borge en skenkers
Help ons om ons opvoedkundige programme uit te brei, skole se vervoer te subsidieer en openbare geleenthede aan te bied.

Meer inligting: Jack Louw tel. +27 (0)21 872 3441 of e-pos Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien

Vrywilligers
Help ons om aktiwiteite aan te bied, navorsing te doen en fondse in te samel.

Meer inligting: Isabeau Botha tel. +27 (0)21 872 3441 of e-pos Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien


 

 
Nuusbrief
Soekfunksie
facebooktwittet
tel: +27(0)21 872 3441