Werkswinkel oor die skryf van gedigte Taalmonument 2018 klein

Moenie jou gedigte dig hou
Taalmonument bied genotvolle Afrikaanse werkswinkel oor die skryf van poësie

Vir diegene wat dalk soms ʼn bietjie dig voel as hulle pen op papier of vinger op sleutelbord plaas om ʼn gedig op te tower, bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl ʼn poëtiese oplossing: ʼn werkswinkel op 25 Junie 2018 met die digkunskenner prof Bernard Odendaal. Boonop sal deelnemers se beste gedigte oorweeg word vir die Groen Galery-uitstalling by die monument waar minder-bekende skrywers se werk onder die publiek se aandag gebring word.

Die genotvolle dag, aangebied in samewerking met die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit en geborg deur die LW Hiemstra Trust, sal verskeie aspekte van digkuns bespreek asook ʼn praktiese afdeling waarin daar aan deelnemers se gedigte geskaaf sal word. Aangesien die werkswinkel gemik is op belangstellendes wat reeds dig, maar kundigheid oor hoe om hul gedigte beter en treffender te maak wil opdoen, word hulle aangemoedig om een van hul gedigte saam te bring. Odendaal, die direkteur van die ATKV-Skryfskool, is ’n deskundige op die gebied van die Afrikaanse digkuns en self ’n gepubliseerde digter, liedteksskrywer en essayis.

Van die vrae wat onder die loep geneem gaan word, is:
• Waarom skryf ons as mense gedigte?
• Wat onderskei gedigte van byvoorbeeld prosawerk? Met ander woorde, watter kommunikasiewyses en skeppingsmiddele is in die besonder van toepassing by die skryf van poësie?
• Verskil liedtekste en gedigte enigsins van mekaar?
• Op grond waarvan kan ’n mens die kunsgehalte van ʼn gedig bepaal?

Die werkswinkel vind in die konferensielokaal van die Taalmonument in Gabbema Doordriftstraat op Paarlberg vanaf 09:00 tot 16:00 plaas. Dit kos slegsR150 per persoon, wat ʼn gratis besoek aan die monument asook koffie/tee, soetgoed en ʼn heerlike middagete insluit.

Plekke is beperk, dus bespreek asseblief vroegtydig by Jeffrey Pietersen op 021 872 3441 of bemarking2@taalmuseum.co.za om deelname te verseker. Die ATM bied jaarliks ʼn hele reeks kursusse en werkswinkels aan wat fokus op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede. Vanjaar se program sluit onderwerpe soos boekherstelwerk, museumbewaring en stersirkelsfotografie in. Voorstelle vir bykomende werkswinkels oor soortgelyke onderwerpe is welkom. Sien www.taalmonument.co.za vir meer en volg ons op Facebook.