skerpskryf taalmuseum 2017

Skerpskryf is ’n skeppende Afrikaanse skryfkompetisie vir graad 7-, 10-, 11- en 12-leerders van Drakenstein. Almal wat Afrikaans as huis- of addisionele taal neem, is welkom om in te skryf.

Die kompetisie word vanjaar vir die sewende keer aangebied deur die Hugenote Gedenkskool in Dal Josafat in samewerking met die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl. Die Hugenote Gedenkskool was die eerste skool in Suid-Afrika waar Afrikaans amptelik as onderrigmedium aangewend is.

Die kompetisie is tot voordeel van elke leerder wat in Afrikaans skryf en help om belowende jong skrywers in Afrikaans te identifiseer. Die finaliste en hulle onderwysers sal genooi word om by die prysoorhandiging by die Hugenote Gedenkskool deel te neem aan ’n werkswinkel met bekende skrywers en joernaliste.

Daar is twee kategoriëe: Graad 10-, 11- en 12-leerders moet ’n e-pos van tussen 350 en 400 woorde aan pres. Jacob Zuma skryf oor die onderwerp: Waarom en wanneer ek altyd Afrikaans sal/wil/sou praat! Gr 7-leerders van landelike skole moet ’n verslag van 200 woorde oor ’n gebeurtenis skryf, bv. oor bergbrande.

Leerders én skole kan lekker pryse wen: Die algehele wenner kry R1 000 kontant plus ’n koopbewys vir R1 000 vir Afrikaanse boeke. Die twee wenners in die kreatiewe en taalkundige afdelings wen elkeen R500 kontant plus ’n koopbewys vir R500 vir Afrikaanse boeke. Die algehele laerskoolwenner kry R500, die naaswenner R300 en die leerder wat die derde prys wen R200. Elkeen kry ook ’n boek as prys. Die ses wenners se skole ontvang ook elk ’n koopbewys van R500 vir Afrikaanse boeke. Die opvoeder of persoon wat die wen-inskrywing aangemoedig het sowel as die onderwyser wat die meeste inskrywings instuur, kry elkeen R500.

Leerders kan by hulle Afrikaans-onderwyser inskryf. Wenners van die vorige jare kan weer inskryf, maar sal nie in aanmerking kom vir een van die pryse nie. Inskrywings moet teen 28 Julie 2017 ingehandig word by Janine Brown by die Taalmuseum in Pastorielaan 11, Paarl. Vir navrae, kontak haar by 021 872 3441 of opvoeding@taalmuseum.co.za.