gevorderde boekkursus2018 klein

Taalmonument bied gevorderde kursus oor boekherstel en -bindery

Kort op die hakke van ‘n hoogs suksesvolle inleidende kursus oor die herstel van boeke, bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl weer ‘n kursus, met die fokus op gevorderde tegnieke soos leerbind- en bladgoudwerk, aan. Die bekende boekherstelspesialis Peter Packery – wat meer as vier dekades se ervaring in boekherstel en -bindwerk, insluitend die herstel van uiters waardevolle boeke – onder die blad het, is die kursusleier vanaf 1 tot 3 Oktober 2018. Dit is geskik vir deelnemers wat reeds basiese boek- en papierherstelwerk onder die knie het. Packery was voorheen by die Suid-Afrikaanse Biblioteek se restourasiedepartement betrokke en het vir 26 jaar sy eie boekherstel-en-bindbesigheid bedryf – hy het onder meer vanjaar drie onvervangbare, historiese bybels van die Taalmuseum pragtig gerestoureer.

Die tweetalige kursus kos R1 500 per persoon en vind daagliks van 09:00 tot 16:30 in die Besoekersentrum se konferensielokaal by die Taalmonument plaas. Eie gereedskap (waaronder ʼn beenmes) kan gebruik word of ʼn stel kan teen R200 aangekoop word. Koffie en tee is ingesluit, maar deelnemers moet sorg vir hul eie middagete of van die Volksmond Koffiewinkel gebruik maak.

Die ATM bied jaarliks ʼn hele reeks kursusse en werkswinkels aan wat fokus op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede. Vanjaar se program sluit onderwerpe soos argivering, taaltoerisme en stersirkelfotografie in. Voorstelle vir bykomende werkswinkels oor soortgelyke onderwerpe is welkom. Vir meer inligting en besprekings, kontak Jeffrey Pietersen by 021 872 3441 of stuur ʼn e-pos na bemarking2@taalmuseum.co.za. Sien www.taalmonument.co.za vir meer en volg ons op Facebook, Twitter en Instagram.