Taalmonument deel die gees van gee met kindervermaak en geskenke

Om die druk op hom te verlig, het Kersvader wéér besluit om solank vooraf geskenke uit te deel tydens ʼn volmaanpiekniek by die ikoniese Afrikaanse Taalmonument op Saterdag, 18 Desember 2021.

ʼn Beeldskone aand met kindervermaak, speelparke en buitelugspeletjies vir die jongspan, asook ʼn sonsondergang gevolg deur ʼn volmaan, beloof om die dag in ʼn onvergeetlike geleentheid te omskep. Gaste word aangemoedig om die omgewing te verken en, omdat die piekniekreeks boonop ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmonument se geletterdheidsprojek vir kinders, aangebied word, word besoekers aangemoedig om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek te skenk.

Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies en drankies (geen glas) mee te bring. Trek warm aan en bring ‘n flits asook masker. Sien taalmuseum.co.za/covid-19/ vir die spesifieke protokolle. Genoeg veilige parkering is beskikbaar.

Toegang is slegs R40 per volwassene, R10 per pensioenaris/student, R5 per kind en gratis vir onder-6’s. Kaartjies is beskikbaar by Computicket en, indien daar nog oor is, by die hek op die dag self vanaf 16:00. Die vermaak begin om 17:00 en Kersvader behoort om 19:00 sy opwagting te maak om presente uit te deel, dus ouers moet asseblief hul kinders se duidelik gemerkte geskenke teen 18:00 in sy Kerskous in die Besoekersentrum besorg. Hierdie gewilde jaarlikse geleentheid sal tot 22:00 duur.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. DIE TAALMONUMENT EN TAALMUSEUM IS OOP VIR BESOEKERS. Jaarpermitte kos R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.