krismis-volmaanpiekniek-20162017-finaal

Kinders wat nie meer langer kan wag om vir Kersvader te ontmoet nie, kan op Donderdag 15 Desember 2016 ’n vroeë Kersfees kom beleef tydens die laaste Volmaanpiekniek van die jaar by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl.

Ouers moet hul kinders se geskenke, wat duidelik gemerk moet wees, vooraf in Kersvader se kerskous in die Besoekersentrum besorg. Kersvader behoort om 19:00 sy opwagting te maak om geskenke uit te deel.

Dié pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners én oorsese besoekers, wat veral die sonsondergang en naguitsig van die vallei geniet. Besoekers kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou. ’n Gratis begeleide toer van die monument sal om 18:30 aangebied word.

Besoekers is welkom om hul eie pieknieks saam te bring of een (teen R250 vir twee persone, of R350 met ‘n mandjie ingesluit) by Volksmond Koffiewinkel te bestel (tel. 021 863 2800). Volksmond sal oop wees vir koffie en ligte verversings. Besoekers moet onthou om flitse en warm klere saam te bring. Geen honde en vure word toegelaat nie. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer.

Kaartjies kos R25 vir volwassenes, R10 vir SA studente en R5 vir kinders (gratis onder ses jaar) en is by Computicket en by die hek beskikbaar. Geen besprekings is nodig nie. Jaarpermitte is by die Taalmonument beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot Volmaanpieknieks insluit.

In 2017 vind Volmaanpieknieks plaas op 13 Januarie, 11 Februarie en 11 Maart. Vir meer inligting oor geleenthede by die Taalmonument, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van Laat ons Lees!, die Taalmuseum se voorleesprojek vir kinders. Piekniekgangers word aangemoedig om ‘n nuwe of tweedehandse kinderboek saam te bring ter ondersteuning van dié projek.