Kollig val op Kersvader wat ikoniese Taalmonument tydens die volmaan besoek
Beleef die kosmiese skouspel met ʼn heerlike piekniek in die asemrowende natuurskoon

Om die druk op hom te verlig, het Kersvader besluit om solank vooraf ʼn paar geskenke uit te deel tydens die jaarlikse Vader Kersfees Volmaanpiekniek by die Afrikaanse Taalmonument op Saterdag, 22 Desember 2018 – ʼn aand boonop ten bate van ʼn goeie doel.

Dié pieknieks op Paarlberg is baie gewild onder plaaslike inwoners én oorsese besoekers, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig op die valleie, berge en skiereiland geniet. Besoekers kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 piekniek hou. ’n Gratis begeleide toer wat onder meer die simboliek van die monument, ‘n beeldhouwerk sonder weerga, verklaar, word om 18:30 aangebied. Besoekers word aangemoedig om die omgewing te verken en daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders. Kersvader behoort om 19:00 sy opwagting te maak om geskenke uit te deel, dus ouers moet asseblief hul kinders se duidelik gemerkte geskenke vooraf in sy kerskous in die Besoekersentrum besorg.

Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies te bring of een vooraf te bestel (R300 vir twee persone, of R400 met ‘n mandjie ingesluit) by die Volksmond Koffiewinkel op 021 863 2800. Volksmond sal oop wees vir koffie en ligte verversings asook pizza. Onthou ook asseblief warm klere en ‘n flits.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmuseum se voorleesprojek vir kinders. Piekniekgangers word aangemoedig om ‘n nuwe of tweedehandse kinderboek saam te bring en te skenk ter ondersteuning van dié projek.

Toegang is R30 per volwassene, R10 vir SA studente en pensioenarisse en R5 vir kinders (gratis onder ses jaar). Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek; geen besprekings is nodig nie. Jaarpermitte is by die Taalmonument beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede by die Taalmonument, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg ons op Facebook. Die volgende Volmaanpieknieks vind op 19 Januarie 2019, 22 Februarie en 22 Maart plaas.