Volmaanpiekniek met vader kersfees Taalmonument 2017

Kersvader besoek ikoniese Taalmonument tydens die volmaan

Die einde van die jaar lyk dalk nog ver, maar kinders wat nie langer kan uithou om Kersvader of Sinterklaas te ontmoet nie, kan op Vrydag, 1 Desember 2017, ’n vroeë Kersfees beleef tydens die Vader Kersfees Volmaanpiekniek by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl.

Dié pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners én oorsese besoekers, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig van die vallei geniet. Besoekers kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou, maar  ’n gratis begeleide toer wat onder meer die simboliek van die monument, ‘n beeldhouwerk sonder weerga,  verklaar, word om 18:30 aangebied. Kersvader behoort om 19:00 sy opwagting te maak om geskenke uit te deel, dus ouers moet asseblief hul kinders se duidelik gemerkte geskenke  vooraf in sy kerskous in die Besoekersentrum besorg.

Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies te bring of een vooraf te bestel (teen R300 vir twee persone, of R400 met ‘n mandjie ingesluit) by die Volksmond Koffiewinkel  op 021 863 2800. Volksmond sal oop wees vir koffie en ligte verversings. Onthou ook asseblief warm klere en ‘n flits.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmuseum se voorleesprojek vir kinders. Piekniekgangers word aangemoedig om ‘n nuwe of tweedehandse kinderboek saam te bring ter ondersteuning van dié projek.

Toegang is R30 per volwassene, R10 vir SA studente/pensionarisse en R5 vir kinders (onder ses jaar kom gratis binne). Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en geen besprekings is nodig nie. Jaarpermitte is by die Taalmonument beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot Volmaanpieknieks insluit. Vir meer inligting oor geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg ons op Facebook.

Die volgende Volmaanpieknieks vind op 2 Januarie 2018, 2 Februarie en 2 Maart plaas.

Die Afrikaanse Taalmonument: kultuur, natuur én plesier. En omgee vir die gemeenskap van hier.

{Spreekwoord van die dag: ‘Elke dassie prys sy kwassie’, menende elkeen is trots op sy eie.}