Volmaanpiekniek Taalmonument 2017 2018

Maanskyn, rose en piekniek by die Taalmonument

Soms is alles net maanskyn en rose, veral as jy die volmaan van nader bekyk op ‘n heerlike lenteaand op die beeldskone Paarlberg – en dit boonop ten bate van geletterdheid. Daarom nooi die Afrikaanse Taalmonument se vriendelike personeel almal hartlik uit om saam met ons ‘n Volmaanpiekniek op Saterdag, 4 November, te hou.

Dié pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners én oorsese besoekers, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig van die vallei geniet. Besoekers kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou.  ’n Gratis begeleide toer wat onder meer die simboliek van die monument, ‘n beeldhouwerk sonder weerga,  verklaar, word om 18:30 aangebied.

Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies te bring of een vooraf te bestel (teen R300 vir twee persone, of R400 met ‘n mandjie ingesluit) by die Volksmond Koffiewinkel  op 021 863 2800. Volksmond sal oop wees vir koffie en ligte verversings. Onthou ook asseblief warm klere en ‘n flits.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmuseum se voorleesprojek vir kinders. Piekniekgangers word aangemoedig om ‘n nuwe of tweedehandse kinderboek saam te bring ter ondersteuning van dié projek.

Toegang is R30 per volwassene, R10 vir SA studente en pensionarisse en R5 vir kinders (gratis onder ses jaar). Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en geen besprekings is nodig nie. Jaarpermitte is by die Taalmonument beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot Volmaanpieknieks insluit. Vir meer inligting oor geleenthede by die Taalmonument, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg ons op Facebook.

Die volgende Volmaanpieknieks vind op 1 Desember, 2 Januarie 2018, 2 Februarie 2018 en 2 Maart 2018 plaas.