Moenie die laaste piekniek van die seisoen mis nie

Soms is als net maanskyn en rose, veral as jy die volmaan van nader bekyk op ʼn heerlike, soel aand met jou kaal voete op die sagte somergras. Daarom nooi die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se vriendelike personeel almal hartlik uit om die laaste Volmaanpiekniek ten bate van ʼn goeie doel op Vrydag, 22 Maart 2019, op die beeldskone Paarlberg te vier.

Dié pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners én oorsese besoekers, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig op die valleie, berge en skiereiland geniet. Besoekers kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 piekniek hou. ’n Gratis begeleide toer wat onder meer die simboliek van die monument, ‘n beeldhouwerk sonder weerga, verklaar, word om 18:30 aangebied. Besoekers word aangemoedig om die omgewing te verken en daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders.

Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies te bring of een vooraf by die Volksmond Koffiewinkel op 021 863 2800 te bestel (R300 vir twee persone of R400 met ‘n mandjie ingesluit). Volksmond sal oop wees vir koffie en ligte verversings asook pizza. Onthou ook asseblief warm kleding en ʼn flits.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmuseum se voorleesprojek vir kinders. Piekniekgangers word versoek om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek saam te bring en te skenk ter ondersteuning van dié projek.

Toegang is R30 per volwassene, R10 vir SA studente en pensioenarisse en R5 vir kinders (gratis onder ses jaar). Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek; geen besprekings is nodig nie. Jaarpermitte is by die Taalmonument beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede by die Taalmonument, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg ons op Facebook.