Mede-Afrikane kan weer gratis kom kuier

Om opnuut klem te lê op die Afrika in Afrika(ans), gaan die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se viering van Afrikadag op Saterdag, 25 Mei 2019, fokus op die wedersydse invloede tussen Afrikatale en Afrikaans. In die lig van verlede jaar se suksesvolle viering, bied die monument weereens gratis toegang aan alle Afrikane (Suid-Afrikaners uitgesluit) wat met ʼn geldige paspoort van enige ander Afrikaland opdaag.

Volgens Michael Jonas, Direkteur van die ATM, wil die monument met hierdie viering mense bewus maak van Afrikaans as ʼn Afrikataal, die taal se Afrika-wortels (saam met haar Europese en Oosterse erfenisse) sowel as die diversiteit van die Afrikaanssprekende gemeenskap. “Ons wil ook as Suid-Afrikaners uitreik na ons mede-Afrikane en daarom dat ons dit goed gedink het om hulle gratis toegang tot die Taalmonument aan te bied. Ons beskou die monument nie net as ʼn baken van hoop vir die ontwikkeling van Afrikaans nie, maar vir alle Afrikatale.”

Om 12uur op die dag sal die Afrika Unie se amptelike lied gespeel en die amptelike vlag gehys word om verrigtinge mee af te skop. Daarna vind ʼn gratis begeleide toer van die monument plaas; dit sal fokus op die taal se Afrika-wortels en Afrikaans se invloed op ander Afrikatale. Tussen 1 en 2nm sal die Imbhewu Marimba-groep en Voce Armoniche-koor betowerende Afrikaliedere opvoer – dit is ook gratis vir besoekers.

Jonas stel voor dat gesinne en vriende ʼn heerlike daguitstappie daarvan maak. “Kom hou ʼn piekniek, ondersteun die heerlike restaurant en laat die kinders speel in die speelparke of van die buitelug-speletjies gebruik maak. Boonop is die uitsig en natuurlike omgewing absoluut pragtig in die herfs.”

Die Taalmonument se toegangsfooie is R40 vir volwassenes, R10 vir Suid-Afrikaanse studente en pensioenarisse, R5 vir kinders onder 18 (gratis onder ses jaar) en gratis vir Drakenstein-inwoners met geldige biblioteekkaartjies. Oudiogidse is beskikbaar in Afrikaans, Engels, Xhosa, Frans, Duits en Nederlands. Vir meer inligting oor die ATM se opwindende geleenthede, besoek www.taalmonument.co.za of volg die Taalmonument op Facebook, Twitter of Instagram.