Taalmonument vuur en vlam vir die Rockets

Die beroemde en geliefde The Rockets is al só ʼn instelling by die ikoniese Taalmonument dat hulle weereens die Paarlberg sal bestyg om die somer en nuwe jaar van 2020 behoorlik te vier. As jy nog nie hierdie energieke popgroep in lewende lywe aanskou het nie, is Vrydag, 24 Januarie, die aand wat jy nie kan mis nie; as jy hulle reeds ken, is geen aanmoediging nodig nie. Hul konsert is boonop deels ten bate van die Laat ons Lees!-geletterheidsprojek vir kinders, dus besoekers word versoek om enige kinderboeke vir hierdie doel te skenk.

The Rockets is meer as net ‘n groep; dis inderdaad ‘n musikale instelling. Hulle het al meer as 3 miljoen kilometer gereis en voor miljoene aanhangers opgetree, en gaan voort om plaaslike sowel as internasionale verhoë aan die brand te sing met hul kleurryke, kompromislose en energieke optredes. Die groep is vanjaar met ‘n Ghoema-toekenning vir Lewensbydrae vereer en hul uitverkoopte vertoning om hul 50ste verjaardag te vier, het ‘n SAFTA-toekenning vir die Beste Musiekproduksie ontvang.

The Rockets het al die talle CD’s die lig laat sien en is ou bekendes op menige radiostasie – die liedjies van hul jongste Afrikaanse album, Sonskyn, word ook gereeld gehoor. Oud en jonk is mal oor Jerry Watt, Manuel Losper, Ryan Smith, Jano van der Berg en Bruce Newman se strelende stemme wat musiek van die verlede tot die hede tot harmonieuse lewe bring.

Die vertoning begin om 20:00 in die Tuinteater – net betyds vir ʼn pragtige sononder – op die sagte grasperk aan die voet van die monument. Besoekers is welkom om vooraf die monument en beeldskone omgewing via wandelpaaie te verken terwyl die kinders hulself in die speelparke vermaak. Bring jou eie drankies (geen glas) en piekniekmandjie of bestel een vooraf by die verruklike restaurant op 021 863 2800. Koffie, ligte verversings, pizza, wyn en bier sal ook te koop wees.

Kaartjies, wat na verwagting snel gaan uitverkoop, is vooraf by Computicket en die Taalmonument teen R100 vir volwassenes en R50 vir kinders onder 13 jaar beskikbaar. Onthou ’n kombers of kussing en warm klere. Veilige parkering is beskikbaar (ʼn pendeldiens vervoer besoekers na die hek) en toegang word beheer. Helaas word geen honde of vure toegelaat nie.

Vir verdere inligting oor hierdie en ander opwindende geleenthede (soos die volmaan- en sterrekykpieknieks), skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument. Die konserte hierdie seisoen sluit die groot 45ste verjaardagfees (28/29 Februarie) asook die Taalmonument Koorfees (15 Maart) in. Meer oor The Rockets by www.rockets.co.za