uitnodiging-slawedag-2016

Die bekende skrywer en geskiedkundige dr Dan Sleigh is die gasspreker by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl se slawevrystelling-viering op Saterdag 3 Desember 2016. Die tema van die geleentheid is “Versoen met ons slawe-verlede”.

Dr Sleigh is ‘n kenner van VOC-geskiedenis en bekroon vir sy bydrae tot bewaring en letterkunde.  Hy het ‘n D.Phil. in Geskiedenis van Stellenbosch Universiteit en ‘n ridderskap van die Nederlandse koningshuis. Hy het sy nasionale diensplig in die Suid-Afrikaanse Vloot gedoen.

Volgens Michael Jonas, Direkteur van die ATM, is die doel van die viering om hulde te bring aan die nalatenskap van die slawe in ons kultuur en omgewing. Jonas sê slawerny is geensins eie aan Suid-Afrika nie, maar ’n wêreldwye verskynsel wat reeds sedert Bybelse tye beoefen is. Hy wys egter daarop dat talle van die sosio-ekonomiese, maatskaplike en identiteitskwessies waarmee die Suid-Afrikaanse samelewing vandag worstel, hul oorsprong in slawerny het.

“Ons vier in Desember ook Versoeningsdag en wil hiermee ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners doen om te versoen met ons land se verlede, insluitend ons slawe-erfenis. Sowat 63 000 slawe is tussen 1658 en 1808 uit verskillende wêrelddele hierheen ingevoer. Hul herkoms uit sowel die Ooste as uit ander dele van Afrika het ’n unieke en diverse slawebevolking tot stand gebring wat ‘n groot bydrae tot taal- en kultuurontwikkeling aan die Kaap gelewer het. Kom leer gerus meer oor hierdie erfenis tydens ons viering,” sê Jonas.

“’n Belangrike hedendaagse kwessie is dat alhoewel slawerny amptelik onwettig verklaar is in alle lande, daar vandag meer slawe as ooit bestaan.  Tydens die vier eeue van slawerny is daar ongeveer 13 miljoen mense vanaf Afrika uitgevoer.  Vandag is daar ongeveer 27 miljoen slawe – mense wat geforseer word om te werk vir geen geld, opgesluit word en deur geweld beheer word. “

Die program sluit musiekoptredes in deur die plaaslike kunstenaars Marissa van Mollendorf en Drakenstein Youth Development. Die geleentheid begin om 09:30 in die Historium Konferensiesentrum langs die Afrikaanse Taalmuseum in Pastorielaan. Bywoning is gratis, maar plek is beperk. Bespreek by Carlo Joshua by 021 872 3441 of erf.assist@taalmuseum.co.za.

Save

Save