Valentynspiekniekkonsert Ernie Smith Taalmonument 2018 klein

Ernie Smith bemin en bekoor piekniekers op Valentynsdag by Taalmonument
Rooi tapyt en feëliggies wag op geliefdes op ‘n soel somersaand

Valentynsdag beteken daar is selfs meer liefde in die lug by die Taalmonument danksy afro-jazz minnesanger Ernie Smith en die Sean D Band wat harte vinniger gaan laat fladder met hul strelende klanke. Bring dus jou geliefdes en sluit by ons aan vir ’n lieflike, sjieke piekniek onder die Paarlse sterre op 14 Februarie 2018. Gaste gaan boonop die Tuinteater kan betree op ’n rooi tapyt en hul neervly op die sagte gras waar vonkelende feëliggies ’n magiese aand sal belig. Die geleentheid is ook ’n riem onder die hart vir die monument se ‘Laat ons Lees!’ geletterheidsprojek vir kinders aangesien ‘n deel van die inkomste daarvoor aangewend word.

Die bekroonde Ernie – bekend as ‘n geniale kitaarspeler en musiekvervaardiger van onder meer sy eie album, ‘Times for Love’ – gaan van sy toptreffers soos ‘Love Don’t Hurt Me So Bad’ en ‘When I’m Feeling Kinda Lonely’ speel, wat vir seker die liefdesdag op ’n hoë noot sal afsluit. Hy het ook al opnames met onder andere Jonathan Butler, Kirk Whallum, Neville D, Bebe Winans en John Ellis gedoen. Die Sean D Band sal gaste vermaak met gewilde Afrikaanse liefdes liedjies soos “Toe stop my hart by jou” en meer.

Besoekers word aangemoedig om hulself in swierige swart, rooi en wit klere uit te rus en ‘n paar heerlike wyne te proe; die wyne sal ook te koop aangebied word. Die hekke open om 17:00 en die vertoning begin om 19:30 aan die voet van die monument terwyl die son se laaste strelende strale kwyn. Gaste is welkom om vooraf die beeldskone omgewing via wandelpaaie te verken terwyl die kinders hulself in die speelparkies vermaak. Bring jou eie piekniekmandjie of bestel een vooraf by die vergrote en verbeterde Volksmond Koffiewinkel op 021 863 2800. Koffie, ligte verversings, wyn en bier sal ook te koop wees.

Kaartjies is vooraf beskikbaar by die Taalmonument of Computicket teen R150 per volwassene, R140 vir studente en R70 vir kinders onder 13 jaar; hulle kan ook by die hek gekoop word. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Helaas word geen honde of vure toegelaat nie. Die volgende piekniekkonserte is met Elvis Blue (17 Februarie) en Die Heuwels Fantasties (24 Maart).

Vir verdere inligting, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.