Dit is altyd lekker om ʼn oproep te kry waar iemand boeke wil skenk aan die Afrikaanse Taalmuseum. Die familie van wyle prof Cobus Naudé het ons onlangs geskakel en van hul pa se boeke aan die ATM geskenk. Naudé het in 1977 die leiding geneem by die nuutgestigte Sentrum van Islamkunde aan die Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg). Voor hy hierdie posisie beklee het, was hy in die 1960’s ʼn lektor by Unisa waar hy in die Departement Semitiese Tale werksaam was en Arabies en Hebreeus doseer het. Van sy studente in hierdie periode was die bekende aktiviste Ahmed Kathrada en Desmond Tutu.

Die boeke wat aan die ATM geskenk is, sluit publikasies oor Die Openbaring en werklikheid van Islam, Die Vier Evangelies en Psalms asook die Eerste Afrikaanse Liederebundel in. Daarmee saam is ook ʼn pragtige versierde Arabiese Koran, met groen sy oorgetrek, asook die Bajaan Oedien.

Laasgenoemde is veral belangrik in die geskiedenis van Afrikaans. Dr Achmat Davids het in die verloop van sy navorsing getoon hoe Afrikaans, buiten die Wes-Europese en Afrika-invloede, ook deur die bydraes van mense uit Suidoos-Asië en die Indiese vasteland gevorm is. Dit sluit bydraes in van geletterde bannelinge of volwassenes wat slaafgemaak is. Boeginees, Maleis, Tamil, Soendanees en Soelawesi was van die tale wat hulle gepraat het, en tekens van hierdie tale is aanwesig in Afrikaans. Davids het die rykdom van tekste in Arabies-Afrikaans – byvoorbeeld die geskrifte aan imams, politieke pamflette, skrywes van politici en gewone mense – bestudeer.

Die bekendste van hierdie tekste is die van Abubakr Effendi se godsdienstige handleiding bekend as die Bajaan Oedien (Die Uitleg van die Geloof) wat rondom die 1860’s in die Arabiese skrif geskryf is. Die skrif moes aangepas word om die sprekers se uitspraak weer te gee en was dus ʼn geskrewe weergawe van die spreektaal

Die Bajaan Oedien van Abubakr Effendi is in 1877 in Istanbul in Türkiye gedruk en was die eerste publikasie in Arabies-Afrikaans (al was die manuskrip reeds in 1869 in Kaapstad gereed). Die boek het 353 bladsye beslaan en verskeie onderwerpe aangeraak. Dit het gedien as ʼn handboek om die beginsels van die Islamgeloof aan die Moesliemgemeenskap van die Kaap in daardie tyd oor te dra. Effendi het voortgebou op ʼn bestaande tradisie om Afrikaans in Arabies te skryf; die Arabies-Afrikaanse literêre tradisie het volgens Davids reeds in die vroeë 1800’s begin.

Die jongste boekskenking sal deel vorm van die museum se boekversameling wat aan navorsers beskikbaar gestel word; die instelling het boonop ʼn uitstalling oor Arabies-Afrikaans en die invloed daarvan op die Afrikaanse taalgeskiedenis. Op 26 Julie 2022 vind ʼn werkswinkel hieroor plaas, waarna daar weer ʼn kompetisie vir nuwe Arabies-Afrikaanse werke plaasvind.

  • Bron: Die Afrikaans van die Kaapse Moslems SBA 2018