Taalmonument gasheer vir ‘Deurnagwaak’ as deel van Taalmaand

Ter ere van Taalmaand 2021 speel die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) gasheer vir ʼn unieke Afrikaanse uitvoering van Die Deurnagwaak deur Sergei Rachmaninoff op Sondag, 15 Augustus 2021.

Koorinsident, ʼn ad hoc-koor onder leiding van komponis/dosent David Wolfswinkel, sal hierdie werk slegs vir die 2de keer ooit in Afrikaans opvoer wat beteken dat dié geleentheid ʼn ongelooflik ervaring beloof – en dit boonop in die intieme amfiteater van die monument self. Die Deurnagwaak, oorspronklik in Russies gekomponeer in 1915, is ‘n diens van die Oosterse Ortodokse Kerk en Oosterse Katolieke Kerk wat bestaan ​​uit ‘n samevoeging van die drie kanonieke ure van Vespers, Matins en die Eerste uur. Hierdie nagwaakseremonie word tradisioneel op geleenthede wat na Sondae lei en op groot liturgiese feeste gevier.

Die a capella-koorwerk sluit 3 vorme van sangspraak (chanting) in en is hoofsaaklik vierstemmig, hoewel sekere bewegings uitbrei tot ‘n agtstemmige harmonie. Die begeleiding deur soliste kan ook waargeneem word. Die werk het onder meer ook bekendheid verwerf vir die besondere eise wat dit aan die lae basregister stel, met dalende note wat selfs Russiese stembande uitgedaag het.

Die geleentheid vind vanaf 14:00 tot 15:30 plaas en slegs 100 mense sal in ooreenstemming met Covid-regulasies toegelaat word. Die gewone toegangsfooi – R40 per volwassene, R10 per pensioenaris/student en gratis vir onder-18’s – sal geld en besoekers is welkom om ʼn piekniekmandjie en drankies (geen glas) mee te bring. Vir besprekings, bel 021 863 0543 of stuur ‘n e-pos na besoekers@taalmuseum.co.za. Meer oor Koorinsident by www.facebook.com/koorinsident

Vir meer inligting oor hierdie en ander geleenthede asook die Taaldag-webinaar op 14 Augustus, (aanlyn-)kursusse en Covid-19-protokolle, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin (tans aangebied teen ʼn 20%-afslag), wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. DIE TAALMONUMENT EN TAALMUSEUM IS OOP VIR BESOEKERS – TANS GRATIS TOEGANG VIR KINDERS ONDER 18.