Taalmonument, Historium Trust en Cape Family Research Forum bied GRATIS beginner- en gevorderde werksessies

كَن دجَي اَفرِيكَانس تُولِيس اِين عَرَبِيايس اُوف جَاوِي

Om die herlewing van Arabiese Afrikaans te versterk bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), Historium Trust en Cape Family Research Forum twee GRATIS werkswinkels oor hierdie unieke skryftradisie in KAAPSTAD aan. Die gewilde dr Shamiega Chaudhari sal beginners en gevorderde skrywers op Saterdag, 27 Julie 2024, touwys maak, onderskeidelik via ‘n  moderne ‘madrassa’-klas en begeleiding om spesifieke Afrikaanse klanke in die Arabiese skrif te bemeester.

Dit volg op die hoogs suksesvolle werkswinkel en kompetisies sedert 2020 waartydens tientalle nuwe Arabiese Afrikaanse geskrifte in Suid-Afrika, Duitsland, Katar, Oostenryk en Saoedi-Arabië geskep is. Die positiewe reaksie, mediadekking en talle inskrywings bewys dat daar steeds ʼn groot belangstelling in hierdie ryk literatuur is.

Chaudhari se tweetalige, prettige en praktiese werkswinkel in die oggend sal onder meer ʼn inleiding tot die geskiedenis van Arabiese Afrikaans asook opleiding in die Arabiese skryfstelsel behels. Vir gevorderdes wat reeds die guroof (alfabet) onder die knie het, sal sy in die middag help om spesifieke Afrikaanse klanke beter weer te gee.

Chaudhari is ‘n dosent in die fakulteit opvoedkunde aan die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie waar sy Afrikaans as hoofvak en Kurrikulumstudie doseer. Sy is ʼn kenner op Afrikaans en Arabies (en liefhebber van Jawies), maar fokus ook op dekolonisering, identiteitstudies en oratuur. “Die werkswinkels is gemik op almal wat meer wil leer oor hierdie pragtige skryftradisie, nie net Moesliems nie,” sê Chaudhari, wat hartstogtelik oor die geskiedenis van Afrikaans in die algemeen is, en veral hoe ons almal onlosmaaklik verbind is in die tapisserie van hierdie ongelooflike taal.

Arabiese Afrikaans, oftewel Afrikaans wat met behulp van die Arabiese alfabet geskryf is, word algemeen aanvaar as die eerste geskrewe vorm van Afrikaans. Talle Arabiese Afrikaanse geskrifte – soos studentenotaboeke, verkiesingsplakkate, publikasies en manuskripte – het behoue gebly; tot dusver is 74 van dié werke wat tussen 1845 en 1957 geskryf is, deur kundiges ontdek en geïdentifiseer. Daar is boonop heelwat onopgetekende Arabiese Afrikaanse geskrifte in privaatbesit; die ATM wil hulle graag digitaliseer om vir die nageslag te bewaar.

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is die doel van hierdie werkswinkels om ʼn moderne bydrae tot dié skryftradisie te lewer. “Ons missie is immers om onder meer die versweë geskiedenisse van Afrikaans te belig en die ryke diversiteit van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis asook haar moderne gedaantes te vier. Daarom wil ons mense aanmoedig om ook op hierdie manier hul deelname aan hierdie taal te herbevestig,” sê hy. “In die Taalmuseum in die Paarl gee ons heelwat erkenning aan Abu Bakr Effendi wat in die 1800’s ʼn groot rol in die ontwikkeling van Arabiese Afrikaans en derhalwe ook Afrikaans in die Bo-Kaap gespeel het. Ons wil graag sien dat die groter Afrikaanse gemeenskap hierop voortbou.”

Die beginnersklas is op 27 Julie vanaf 09:00 tot 12:00 en die gevorderde klas vanaf 13:00 tot 16:00 in Muhammadeyah Primêr te Battsweg 103, Wynberg. Albei klasse is GRATIS maar voorafbespreking is noodsaaklik om getalle en verversings te bepaal. Om in te skryf, KLIK HIER of kontak Amila Ernstzen op 021 872 2022 of info@historium.co.za teen 25 Julie. Sien intussen meer inligting op die ATM se webtuiste en taalmuseum.co.za/arabies-afrikaans. Vir meer oor die Cape Family Research Forum, wat navorsing oor Kaapse Moesliemfamilies se stambome doen, sien facebook.com/groups/365911190135372

GRATIS BESPREKINGS https://docs.google.com/forms/d/e/1FAIpQLSeOgm8dKm2butOqI2jliwSj2WzXACU1egA5W4Ou-Agki3uj9A/viewform

*            Vir meer inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat onbeperkte toegang tot die ATM, bistro en Volmaanpieknieks insluit. Die bistro bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte; kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 216 2510.