taalmonument-piekniekkonserte-the-rockets-2016-2017

Die gewilde r&b/pop-groep The Rockets tree op Vrydag 27 Januarie 2017 as deel van die Tuinteater Piekniekreeks by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl op. Dié piekniekreeks word ten bate van die Laat ons Lees!-voorleesprojek vir kinders aangebied.

The Rockets is ou bekendes op menige radiostasie en veral liedjies van hul Afrikaanse album, waaronder “Namakwa Daisy” en “Ek is Lief Vir Jou”, word gereeld gehoor. Hulle is ‘n SAMA-genomineerde groep wat reeds die verhoog vir verskeie internasionale kunstenaars geopen het en hulle het reeds in Australië, die Midde-Ooste en Afrika opgetree.
Die vertoning begin om 19:30 in die Tuinteater op die grasperk reg aan die voet van die monument. Die hekke open reeds om 17:00. Besoekers is welkom om hul eie drankies (verkieslik geen glas) en piekniekmandjie saam te bring of een (teen R250 vir twee persone of R350 met ’n mandjie ingesluit) by Volksmond Koffiewinkel te bestel (tel. 021 863 2800). Volksmond sal oop wees vir koffie, ligte verversings, wyn en bier.

Kaartjies is vooraf te koop by Computicket en by die Taalmonument teen R100 vir volwassenes en R30 vir kinders onder 13 jaar. Geen rook en stoele word in die Tuinteater toegelaat nie. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar.

Die piekniekkonsertreeks sluit ook vertonings in deur Arno Carstens en Refentse (2 Desember 2016), Dans van die vlamme (30 Desember 2016), Coenie de Viliers, Hemelbesem en Yoma (6 Januarie 2017), ‘n Valentynskonsert (met onder andere André Schwartz op 14 Februarie 2017), Bobby van Jaarsveld (24 Februarie 2017), Amanda Strydom en Jak de Priester (10 Maart 2017) en Die Heuwels Fantasties (31 Maart 2017). Vir verdere inligting, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.

Save