Tag Archives: skryf

Reg om jou Afrikaans te verbeter?

Slyp dan jou tande vir ʼn boeiende werkswinkel by die Taalmonument

(Her)ontdek ’n paar geheime van goeie geskrewe taalgebruik tydens die gesellige Kom-slyp-jou-Afrikaans-werkswinkel op Donderdag 5 September 2019 by die Afrikaanse Taalmonument op Paarlberg.

Dié werkswinkel, aangebied deur die talentvolle taalkenners Jana Luther van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) en Fred Pheiffer van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), is gemik op die algemene publiek en taalpraktisyns. Dit sal fokus op taalverwikkelinge soos opgeneem in die jongste Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS), asook algemene goeie praktyke, taalversorging, leestekengebruik en skryfwyses (vas of los; koppel- en deeltekens; hoof- of kleinletters), en so meer. Gereelde foute, soos woorde wat verkeerd gebruik of gespel word, sal behandel word en deelnemers kan ook vrae oor hulle eie taalprobleme vra.

Luther is redakteur van die 6de uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT6), redakteur van die nuwe Algemene Woordeboek van Eietydse Afrikaans (AWEA) en Afrikaanse leerderwoordeboek by VivA, en sekretaris van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie. Tevore was sy verbonde aan Tafelberg-Uitgewers, Pharos Woordeboeke en Pearson South Africa en lank vryskutter in die nagkantoor van Die Burger. In haar vrye tyd werk sy as fiksieredakteur.

Pheiffer is mederedakteur by die Buro van die WAT en Taalkommissielid. Voorheen was hy redakteur van skoolwoordeboeke by Oxford University Press South Africa, redakteur van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT6) by Pearson, mederedakteur van die Pharos Afrikaans-Engels-Engels-Afrikaanse Woordeboek en taalpraktisyn en tolk by die Parlement van Suid-Afrika. In sy vrye tyd werk hy as teksredigeerder en vertaler.

Die werkswinkel kos slegs R250 per persoon en vind van 09:00 tot 13:00 in die konferensiesaal van die Besoekersentrum plaas. Ingesluit is koffie/tee/soetgoed asook ʼn gratis begeleide toer van die ikoniese monument.

Vir besonderhede en besprekings, kontak Jeffrey Pietersen by 021 872 3441 of stuur ʼn e-pos na bemarking2@taalmuseum.co.za. Sien meer oor VivA by www.viva-afrikaans.org en meer oor die WAT by www.wat.co.za.

Die ATM bied jaarliks ʼn reeks kursusse en werkswinkels aan wat op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede fokus. Vanjaar se program sluit onderwerpe soos argivering, boekbindery, taaltoerisme en stersirkelsfotografie in. Voorstelle vir bykomende werkswinkels oor soortgelyke onderwerpe is welkom. Sien www.taalmonument.co.za vir meer en volg hulle op Facebook vir al die ander opwindende geleenthede wat by die Taalmonument plaasvind.

Smeer heuning om ons mond en wen só met jou idiome!

‘Skerpskryf in Afrikaans’ het talle koel kontantpryse op die spel vir Drakenstein-leerders

Is daar idiome, spreekwoorde en uitdrukkings in jou drome? Dan is die tiende ‘Skerpskryf in Afrikaans’ – ’n skeppende skryfkompetisie vir graad 7-, 10-, 11- en 12-leerders van Drakenstein – die perfekte plan vir maklike kontant in die hand. Inskrywings is boonop gratis, dus deelnemers kan net wen.

Die kompetisie word aangebied deur die Hugenote Gedenkskool in Dal Josafat in samewerking met die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl. In 1883 was die gedenkskool die eerste skool in Suid-Afrika waar Afrikaans amptelik as onderrigmedium aangewend is.

Deelname is maklik en tot voordeel van elke leerder wat in Afrikaans skryf – dit sal boonop help om belowende jong skrywers te identifiseer. Die finaliste en hul onderwysers sal genooi word na ʼn prysoorhandiging by die Hugenote Gedenkskool op 19 Oktober 2019 waar hulle ook sal deelneem aan ’n werksessie met bekende skrywers, joernaliste en blogskrywers oor die vele aspekte van skryf in Afrikaans.

Daar is twee kategorieë, een vir alle Graad 10-, 11- en 12-leerders in Drakenstein en een vir graad 7-leerders van landelike skole in Drakenstein. Deelnemers moet die volgende doen:
1. Beskryf in een sin wat ’n idioom is;
2. Skryf 10 Afrikaanse idiome neer; en
3. Skryf ’n opstel van maksimum 200 woorde (graad 7) of 300 woorde (grade 10, 11 en 12) waarin jy die betekenis van een van jou gekose idioom uitlê.

Leerders én skole kan ʼn hele paar pryse wen, so sit skouer aan die wiel!

Die algehele hoërskoolwenner kry R1 000 kontant asook ’n R1 000-koopbewys vir Afrikaanse boeke. Die twee wenners in die skeppende en taalkundige afdelings wen elk R500 kontant asook ’n R500-koopbewys vir Afrikaanse boeke. Die algehele laerskoolwenner kry R500 en die eerste twee naaswenners R300 en R200 elk. Al drie wen ook ’n boek as prys. Die ses wenners se skole ontvang ook elk ’n koopbewys van R500 vir Afrikaanse boeke. Die persone wat die wen-inskrywings aangemoedig het, sowel as die onderwysers wat die meeste inskrywings instuur, ontvang elk R500.

Leerders kan by hul Afrikaansonderwysers uitvind hoe om in te skryf of op www.taalmonument.co.za kyk. Wenners van die vorige jare kan weer inskryf, maar sal nie in aanmerking kom vir pryse nie. Inskrywings moet teen 26 Julie 2019 ingehandig word by Janine Brown in die Taalmuseum te Pastorielaan 11, Paarl. Vir navrae en elektroniese inskrywings, kontak haar op 021 872 3441 of opvoeding@taalmuseum.co.za.

Laat jou gedig die lig sien

Taalmonument bied genotvolle werkswinkel; borg ook plaaslike leerders ter ere van Jeugdag

Vir diegene wat dalk soms ʼn bietjie dig voel as hulle pen op papier of vinger op sleutelbord plaas om ʼn gedig op te tower, bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl weereens ʼn poëtiese oplossing: ʼn werkswinkel op Saterdag, 15 Junie 2019, met digkunskenner prof Bernard Odendaal. Nie net vorm dit deel van die monument se Jeugdagherdenkinge nie, maar deelnemers se beste Afrikaanse gedigte sal vir die Groen Galery-uitstalling by die monument oorweeg word.

Die genotvolle dag, aangebied in samewerking met die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit en die LW Hiemstra Trust, sal verskeie aspekte van digkuns bespreek asook ʼn praktiese afdeling waarin daar aan deelnemers se gedigte geskaaf sal word. Aangesien die werkswinkel gemik is op belangstellendes wat reeds dig, maar kundigheid oor hoe om hul gedigte beter en treffender te maak wil opdoen, word hulle aangemoedig om een van hul gedigte saam te bring. Odendaal, die direkteur van die ATKV-Skryfskool, is ’n deskundige op die gebied van die Afrikaanse digkuns en self ’n gepubliseerde digter, liedteksskrywer en essayis.

Van die vrae wat onder die loep geneem gaan word, is:

  • Waarom skryf ons as mense gedigte?
  • Wat onderskei gedigte van byvoorbeeld prosawerk? Met ander woorde, watter kommunikasiewyses en skeppingsmiddele is in die besonder van toepassing by die skryf van poësie?
  • Verskil liedtekste en gedigte enigsins van mekaar?
  • Op grond waarvan kan ’n mens die kunsgehalte van ʼn gedig bepaal?

Die werkswinkel vind in die konferensielokaal van die Taalmonument in Gabbema Doordriftstraat op Paarlberg vanaf 09:00 tot 16:00 plaas. Dit kos slegs R150 per persoon, wat ʼn gratis besoek aan die monument asook koffie/tee, soetgoed en ʼn heerlike middagete insluit. Plekke is beperk, dus bespreek asseblief vroegtydig by Jeffrey Pietersen op 021 872 3441 of bemarking2@taalmuseum.co.za om deelname te verseker. Ter ere van Jeugdag, gaan die ATM ook 10 belowende Drakenstein-leerders borg om die dag gratis by te woon.

Naas opwindende musiek- en ander geleenthede, bied die ATM jaarliks ʼn reeks kursusse en werkswinkels aan wat fokus op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede. Vanjaar se program sluit onderwerpe soos boekherstelwerk, museumbewaring en stersirkelsfotografie in. Voorstelle vir bykomende werkswinkels word verwelkom. Sien www.taalmonument.co.za vir meer en volg hulle op Facebook, Twitter en Instagram. Meer oor die ATKV-Skryfskool by http://humanities.nwu.ac.za/af/atkv-creative-writing/oor-ons