Tag Archives: kompetisie

Neem ‘n selfie en wen!

In die aanloop tot Internasionale Museum Selfiedag op 15 Januarie 2020, kan jy ‘n kans staan om 2 van 10 toegangskaartjies vir die Afrikaanse Taalmuseum en -Monument te verower.
So doen jy dit:
Neem ‘n skeppende selfie by die museum of monument
Gebruik ‘n filter en voeg ‘n oorspronklike onderskrif by
Plaas dit op Instagram of Twitter en merk (‘tag’) @taalmonument en #MuseumSelfie

Kompetisie sluit om middernag 15/16 Januarie 2020
Wenners sal per sosiale media in kennis gestel word
Pryse is oordraagbaar aan vriende of familie
B’s en V’s geld
www.taalmonument.co.za

Smeer heuning om ons mond en wen só met jou idiome!

‘Skerpskryf in Afrikaans’ het talle koel kontantpryse op die spel vir Drakenstein-leerders

Is daar idiome, spreekwoorde en uitdrukkings in jou drome? Dan is die tiende ‘Skerpskryf in Afrikaans’ – ’n skeppende skryfkompetisie vir graad 7-, 10-, 11- en 12-leerders van Drakenstein – die perfekte plan vir maklike kontant in die hand. Inskrywings is boonop gratis, dus deelnemers kan net wen.

Die kompetisie word aangebied deur die Hugenote Gedenkskool in Dal Josafat in samewerking met die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl. In 1883 was die gedenkskool die eerste skool in Suid-Afrika waar Afrikaans amptelik as onderrigmedium aangewend is.

Deelname is maklik en tot voordeel van elke leerder wat in Afrikaans skryf – dit sal boonop help om belowende jong skrywers te identifiseer. Die finaliste en hul onderwysers sal genooi word na ʼn prysoorhandiging by die Hugenote Gedenkskool op 19 Oktober 2019 waar hulle ook sal deelneem aan ’n werksessie met bekende skrywers, joernaliste en blogskrywers oor die vele aspekte van skryf in Afrikaans.

Daar is twee kategorieë, een vir alle Graad 10-, 11- en 12-leerders in Drakenstein en een vir graad 7-leerders van landelike skole in Drakenstein. Deelnemers moet die volgende doen:
1. Beskryf in een sin wat ’n idioom is;
2. Skryf 10 Afrikaanse idiome neer; en
3. Skryf ’n opstel van maksimum 200 woorde (graad 7) of 300 woorde (grade 10, 11 en 12) waarin jy die betekenis van een van jou gekose idioom uitlê.

Leerders én skole kan ʼn hele paar pryse wen, so sit skouer aan die wiel!

Die algehele hoërskoolwenner kry R1 000 kontant asook ’n R1 000-koopbewys vir Afrikaanse boeke. Die twee wenners in die skeppende en taalkundige afdelings wen elk R500 kontant asook ’n R500-koopbewys vir Afrikaanse boeke. Die algehele laerskoolwenner kry R500 en die eerste twee naaswenners R300 en R200 elk. Al drie wen ook ’n boek as prys. Die ses wenners se skole ontvang ook elk ’n koopbewys van R500 vir Afrikaanse boeke. Die persone wat die wen-inskrywings aangemoedig het, sowel as die onderwysers wat die meeste inskrywings instuur, ontvang elk R500.

Leerders kan by hul Afrikaansonderwysers uitvind hoe om in te skryf of op www.taalmonument.co.za kyk. Wenners van die vorige jare kan weer inskryf, maar sal nie in aanmerking kom vir pryse nie. Inskrywings moet teen 26 Julie 2019 ingehandig word by Janine Brown in die Taalmuseum te Pastorielaan 11, Paarl. Vir navrae en elektroniese inskrywings, kontak haar op 021 872 3441 of opvoeding@taalmuseum.co.za.