MEDIAVRYSTELLING

18 Julie 2014

Taalmuseum brei-athon ter viering van Nelson Mandela-dag

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in samewerking met die Dorkas en Buzzy Beez Vroueklubs het op Saterdag 12 Julie 2014 ‘n brei-athon aangebied ter viering van Nelson Mandela-dag.

Volgens Catherine Snel, Bestuurder van Erfenis en Opvoeding by die ATM, het dié insiatief ingeskakel by die doel van Mandela-dag om individue te inspireer om te help om die wêreld ’n beter plek te maak deur 67 minute van hul tyd te spandeer om ’n verskil in iemand anders se lewe te maak.

“Ons wou graag behoeftiges se harte warm maak en hulle help om die winter te trotseer deur ‘n serp, trui of kombers vir hulle te brei. ‘n Totaal van 30 vrouens het die brei-athon bygewoon en het serpe en kombersies gebrei.  Diegene wat nie kon brei nie, is geleer hoe! Ons plaaslike radiostasie, Radio KC, het ook die brei-athon bygewoon en hul luisteraars aangemoedig om die projek te ondersteun. Baie mense het vir ons breiwerk gestuur en ons het ook skenkings van speelgoed en klere ontvang,” sê Snel.

Dié items is op Nelson Mandela-dag, Vrydag 18 Julie, aan behoeftige grootmense en kinders in Drakenstein uitgedeel. Die ATM se personeel het vier organisasies besoek, naamlik die Many Smiles Foundation, Athlone House of Strength (AHOS), Paarl Nagskuiling en ‘n dagsorgsentrum. Sop is ook in die woonbuurt Chicago uitgedeel. Die restaurant Ocean Basket het as deel van die projek 67 kospakkies aan die Paarl Nagskuiling geskenk.