Vier 2021 se somer met die sultans van sang

Wat is ʼn Januarie sonder die beroemde en geliefde The Rockets by die ikoniese Taalmonument op die Paarlberg? Ná ʼn erge onvoorspelbare jaar, is dit gerusstellend dat hulle weereens optree om die somer en nuwe jaar van 2021 behoorlik te vier. As jy nog nie dié energieke popgroep in lewende lywe aanskou het nie, is Vrydag, 29 Januarie 2021, ʼn aand wat jy nie kan misloop nie; as jy hulle reeds ken, is geen aanmoediging nodig nie. Hul konsert is boonop deels ten bate van die Laat ons Lees!-geletterheidsprojek vir kinders, dus besoekers word versoek om enige kinderboeke vir hierdie doel te skenk.

The Rockets is meer as net ‘n groep; dis inderdaad ‘n musikale instelling. Hulle het al meer as 3 miljoen kilometer gereis en voor miljoene aanhangers opgetree, en gaan voort om plaaslike sowel as internasionale verhoë aan die brand te sing met hul kleurryke, kompromislose en energieke optredes. Die groep is onlangs met ‘n Ghoema-toekenning vir Lewensbydrae vereer en hul uitverkoopte vertoning om hul 50ste verjaardag te vier het ‘n SAFTA-toekenning vir die Beste Musiekproduksie ontvang.

The Rockets het al die talle CD’s die lig laat sien en is ou bekendes op menige radiostasie – die liedjies van hul jongste Afrikaanse album, Sonskyn, word ook gereeld gehoor. Oud en jonk is mal oor Jerry Watt, Manuel Losper, Ryan Smith en Jano van der Berg se strelende stemme wat musiek van die verlede tot die hede tot harmonieuse lewe bring.

Die vertoning begin om 20:00 in die Tuinteater – net betyds vir ʼn pragtige sononder en maanopkoms – op die sagte grasperk aan die voet van die monument. Besoekers kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou en die monument, ʼn simboolgelaaide beeldhouwerk sonder weerga, besigtig. Gaste word aangemoedig om die omgewing te verken en het ook toegang tot veilige parkering, ʼn pendeldiens, buitelug-speletjies, kinderspeelparke asook ’n gedigte-uitstalling. Helaas word geen honde of vure toegelaat nie.

Besoekers is welkom om hul eie piekniekmandjies (geen glas) te bring of een vooraf by die Oppi Berg Mobile Café op 060 382 9938 (R250 per paartjie, R450 per gesin van vier) te bestel – die kiosk sal ook spys en drank op die aand verskaf. Onthou warm klere, ’n kombers of kussing, flits asook ʼn masker. Sien www.taalmuseum.co.za/covid-19/ vir die spesifieke protokolle.

Kaartjies, wat na verwagting snel gaan uitverkoop, is vooraf by Computicket en die Taalmonument teen R100 vir volwassenes en R50 vir kinders onder 13 jaar beskikbaar. As daar enige oor is, sal dit vanaf 17:00 by die hek self verkoop word. Vir verdere inligting oor hierdie en ander opwindende geleenthede (soos die volmaan- en sterrekykpieknieks), skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument. Meer oor The Rockets by www.rockets.co.za