korreltjie Kantel Taalmuseum

Taalmonument vier Taalmaand met ‘Korreltjie Kantel’
Afrikaanse skrywers se smeulende verhouding intiem weergegee

‘Korreltjie klein is my woord
korreltjie niks is my dood’ – Korreltjie Sand deur Ingrid Jonker

Ter viering van Taalmaand is die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) verheug om die hoogaangeskrewe Korreltjie Kantel, ‘n musiekteaterproduksie oor die digter Ingrid Jonker en skrywer André P Brink se liefdesverhouding, op Saterdag 18 Augustus aan te bied.

Die drie meesterlike musikante en liedjieskrywers – Luna Paige, Nick Turner en Jamie Jupiter – het Jonker se gedigte en die liefdesbriewe tussen die twee skrywers, omskep in hartroerende musikale skeppings. Naas die musikale vernuf, kan gaste uitsien na ‘n sielvolle vertoning deur die bekroonde Wessel Pretorius en Christine Truter. Dié gesoute akteurs vertolk die rolle van ‘n jong Ingrid en André; hul magiese interpretasie van dié Suid-Afrikaanse literêre figure se tweejaarlange verhouding is al wyd geprys.

Naas die liefde, sal die winterkoue verder verdryf word met heerlike sjerrie, geurige sop en heilsame brood. ‘Korreltjie Kantel’ was ʼn opdragproduksie vir die RSG Kunstefees in 2015, maar is daarna jaarliks ʼn hupstoot gegee danksy Iluminar Produksies. Soveel so dat die pragstuk staande toejuiging en vol huise getrek het tydens vanjaar se Woordfees en die CD vir ‘n SAMA toekenning vir Beste Afrikaanse Kontemporêre Album genomineer is.

Die ruimte is beperk, dus om hierdie sielroerende meesterstuk eerstehands te ervaar, bespreek ʼn kaartjie by 021 863 0543, Computicket of Shoprite/Checkers teen R80 elk. Die aand begin om 19:00 in die Historiumgebou in Pastorielaan, Paarl. Taalmaand word elke Augustus gevier om erkenning te gee aan al die geskiedkundige gebeure wat in hierdie maand tot voordeel van Afrikaans plaasgevind het.

Vir meer inligting oor die ATM en ander gebeure, besoek www.taalmuseum.co.za of volg die Taalmonument op Facebook, Twitter of Instagram. Vir meer oor Iluminar Produksies, sien  www.iluminarproductions.co.za en vir meer oor ‘Korreltjie Kantel’, wat deur Mareli Pretorius geregisseer word, sien www.litnet.co.za/us-woordfees-2018-korreltjie-kantel/