Internasionale gehoor kan kenners aanlyn volg en met vrae peper

Ter ere van Taaldag 2021 bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) ʼn opwindende gratis webinaar aan waartydens verskeie kenners Afrikaans se diverse wortels en hedendaagse gedaantes sal belig.

Die gesprek, onder leiding van mediapersoonlikheid Heindrich Wyngaard, vind op Saterdagoggend, 14 Augustus 2021, plaas en Michael Jonas, direkteur van die ATM, dr Hans du Plessis, prof Elvis Saal, dr Annelise de Vries en me Ria Olivier sal hul interessante, deurdagte insette lewer. Die virtuele gaste sal ook vrae en menings kan lug oor die gesprekstema ‘Die wortels van Afrikaans, toe en nou?’

Hoewel Afrikaans nie ʼn spesifiek geboortedag of -plek het nie, word die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875 (in wat nou die Taalmuseum in die Paarl is) as Taaldag gevier omdat hierdie gebeurtenis uiteindelik tot die erkenning van Afrikaans as ʼn amptelike taal gelei het.

Wyngaard is die aanbieder van die geselsprogram KLOP! op kykNET&kie, die aktualiteitsprogram KNverslag op kykNET en die nuusbesprekingsprogram Kommentaar op RSG. Hy is ook bydraende redakteur van Vryeweekblad.com en lewer bydraes vir Voertaal.nu en Sport-Rapport. Du Plessis het reeds meer as 180 publikasies agter sy naam, en debuteer in 1978 as skeppende skrywer met die digbundel Kleinwild. Sy akademiese publikasies sluit taalkundehandboeke asook taal- en letterkunde-artikels in nasionale en internasionale tydskrifte in. Saal is ʼn medeprofessor in die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy doseer Afrikaanse taalkunde op voorgraadse en nagraadse vlak, in die besonder sosiolinguistiek en dokumentontwerp. De Vries is ʼn dosent in Afrikaans by Akademia en haar navorsingsfokus is toegepaste linguistiek waaronder taalbeplanning en forensiese linguistiek val. Haar mees onlangse gepubliseerde werk is ʼn hoofstuk in die boek Language and the Law in South Africa and beyond – Language and crime: Issues in forensic linguistics. Olivier, ʼn taalkundige en taalpraktisyn, was as lid van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans betrokke by die totstandkoming van die Afrikaanse Taalraad, ’n grondwetlike liggaam vir die bevordering van die taalregte van Afrikaanssprekers.

Die webinaar vind via Zoom plaas; dit begin om 09:30 vir 10:00 (SAT) en sal na 12:00 afgesluit word. Dit sal ook opgeneem word waarna dit gratis op die internet en sosiale media beskikbaar sal wees. Belangstellendes moet teen 13 Augustus ʼn e-pos na Jeffrey Pietersen by bemarking2@taalmuseum.co.za stuur sodat hy die webinaar se vergadering-ID en wagwoord kan verskaf. Kontak hom op 021 872 3441 indien daar enige probleem is.

 Vir verdere inligting oor hierdie en ander geleenthede, (aanlyn-)kursusse en Covid-19-protokolle, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin (tans aangebied teen ʼn 20%-afslag), wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. DIE TAALMONUMENT EN TAALMUSEUM IS OOP VIR BESOEKERS – TANS GRATIS TOEGANG VIR KINDERS ONDER 18.