Taalmonument vier 40 jaar met gratis fees

10 Okt Taalmonument 40ste verjaardagfees

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) word op Saterdag 10 Oktober 40 jaar oud en almal word genooi om saam te kom partytjie hou. Die tema is 40 jaar oud, 40 jaar jonk. ‘n Gratis Verjaardagfees word van 10:00 tot 15:00 in ‘n groot tent by die monument aangebied met ‘n opwindende program wat optredes deur kunstenaars, ‘n fakkelloop, tradisionele kosstalletjies, kinderaktwiteite én die opening van twee nuwe uitstallings insluit.

Ivan Botha en Donnalee Roberts van Pad na jou hart-faam is die seremoniemeesters. Die kunstenaars op die program sluit in klopse (die Drakenstein Jeug Ontwikkelingsgroep), rieldansers (die Boland Vastrappers), die bekroonde plaaslike mannekoor Adagio en die musikante Willim Welsyn en Ryno Velvet.

‘n Hoogtepunt is die bekendstelling van Groen: Tuin van Digters    om 13:15. Die digter Marius Titus kom lees sy gedig  voor, wat ingesluit is in dié uitstalling van 12 gedigte wat vir ses maande in die Taalmonument-tuin vertoon sal word. Die uitstalling bevat gedigte deur Breyten Breytenbach, Adam Small, Carina Stander, Johan Lodewyk Marais, Louis Esterhuizen, Marlise Joubert, Marius Titus, Diana Ferrus, Stef Bos, Hemelbesem, Clinton V du Plessis en Koos Kombuis. Dit word aangebied in samewerking met die Breytenbach Sentrum op Wellington.

‘n Kanonafvuring vind om 12:00 in die Tuinteater plaas, met vier skote ter viering van die vier dekades. ‘n Lid van die publiek wat ‘n vraag reg antwoord, sal die kanon kan afvuur. Dit word voorafgegaan deur ‘n praatjie oor die geskiedenis van kanonne om 11:30 (Engels) en om 11:45 (in Afrikaans).

Om 12:20 arriveer die Voortrekkers via ‘n 8 km-fakkelloop vanaf die Taalmuseum in Pastorielaan, waarna die groot fakkel binne die Besoekersentrum aangesteek word, gevolg deur ‘n praatjie oor die nuwe uitstalling in dié sentrum.

“Ons is baie opgewonde – dit is die eerste keer dat ‘n permanente uitstalling by die Taalmonument aangebied word. Die eerste fase van die uitstalling fokus op die bou en simboliek van die monument, asook op die plek van Afrikaans in die wêreld,” sê Jack Louw, Direkteur van die ATM.

Ander aktiwiteite sluit in die oorhandiging van 100 Afrikaanse boodskappe deur Kraal Uitgewers, die bekendstelling van Die Wonder van ‘n nuwe taal in Afrika-dokumentêr (om 11:00 in die Konferensielokaal), die oorhandiging van ‘n Afrikaanse roos deur die FAK, en ‘n bekendstelling van die Paarl se nuwe Boomroete (wat by die Taalmonument begin).

Toegang is gratis. Geen bespreking is nodig nie. Vir navrae, skakel tel 021 863 4809/0543/2 of stuur ‘n e-pos na admin@taalmonument.co.za.  Besoek www.taalmonument.co.za of www.facebook.com/afrikaansetaalmonument vir meer inligting.