Untitled-1

Relevant vir inwoners én taalgemeenskappe van Afrika

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl word toenemend as ‘n moet-sien en moet-beleef plek beskou deur inwoners en buitelandse toeriste. Só het die direkteur, Michael Jonas, verlede week gesê tydens ‘n geselligheid om nuwighede by die ATM asook die monument se visie vir die onmiddellike toekoms bekend te stel.

“Afrikaans is tans onder druk, veral van regeringskant, maar aan die ander kant word ’n ongelooflike en ongekende hoeveelheid Afrikaanse boeke, rolprente en musiek geskep,” het hy bygevoeg. “Wat veral opval, is dat variante van Afrikaans wat die afgelope eeu nie tot hul reg gekom het, nou ’n bloeitydperk beleef. Die totaliteit van Afrikaanssprekendes is besig om die taal te eien, tot almal en veral die taal se voordeel. ’n Diverse groep Afrikaanssprekendes is besig om hul stemme te vind.”

Volgens Jonas neem die ATM kennis hiervan en vervul dit ’n aktiewe rol om hierdie verwikkelinge te akkommodeer en te bevorder. “Dit is ’n lewende instelling; dit dien as ’n bymekaarkomplek vir Afrikaanssprekendes om lesings, musiek, literatuur, prettige taalwerksessies en mekaar se samesyn te waardeer en geniet. En om dit te deel met nie-Afrikaanssprekendes.”

Daarom het die taalmonument nou oudiogidse in Afrika- en buitelandse tale beskikbaar om nog meer mense in hul eie tale oor hierdie jongste lid tot die taalfamilie in te lig. Die Taalmuseum in die dorp self speel ook ‘n belangrike rol met die bewaring en digitalisering van ongelooflike Afrikaanse manuskripte. “Wat waar is vir die bevordering van Afrikaans, kan ook waar word vir ander Afrikatale; daar is beweging, maar relatief stadig,” het Jonas gesê. “Ons wil sien dat hierdie ikoon ’n simbool van hoop en trots vir alle Afrikane word.”

Naas die monument se fokus op kultuur, natuur en plesier, het Jonas benadruk dat die monument, en selfs die taal, niks is sonder die plaaslike gemeenskap en Afrikaanssprekendes, waarookal hulle hul op die planeet bevind, nie. “Daarom bied ons pieknieks ten behoewe van die ‘Laat ons Lees!’ geletterheidsprojeke vir kinders, ‘n pretdrafkompetisie ten bate van die Boland Skool vir Outisme en gee ons studente die kans om werkservaring by die monument op te doen,” het hy gesê.

“Elke week kom skoolgroepe, van ‘n wye verskeidenheid sosio-ekonomiese en taalagtergronde, om meer oor Afrikaans se ontstaan te leer en die natuurskoon te ervaar. En ons is al vir ‘n dekade aktief besig om onopgetekende variante van Afrikaans en Afrikaanse leefwêrelde, veral in die Noord-Kaap, op te teken en in ‘n digitale formaat vir die nageslag te bewaar. Laat ons duidelik wees: as die Bolandse gemeenskap nie die monument as relevant beskou nie, is dit moeilik om die waarde van hierdie plek, hierdie ruimte, aan ander mense oor te dra.

“Gelukkig lyk dit asof die Afrikaanse Taalmonument toenemend as ‘n moet-sien toerisme-attraksie deur binnelanders en buitelanders beskou word. En dit is waarop ons wil voortbou. Voorts wil ons die instelling nog meer posisioneer as simbool van hoop, nasiebou en sosiale samehorigheid.”

Van die ander verwikkelinge by die monument, is ‘n vergrote en verbeterde Volksmond restaurant, nuwe, veeltalige besoekersborde asook lewensgrootte speletjies vir kinders. Die monument en museum bied hierdie seisoen weer tientalle geleenthede soos pieknieks, musiekkonserte, sportgebeure en lesings aan. Aangesien die monument in 2020 ‘n 45 jaar jonk gaan wees, is daar ook ‘n projek geloods om die bouers van die monument op te spoor, hul verhale op te teken en aan hulle lewenslange ‘ere-taalkaarte’ te gee waardeur hulle die monument gratis kan besoek.

Die geselligheid is onder andere bygewoon deur verskeie raadslede van Drakenstein Munisipaliteit asook lede van die Afrikaans Taalraad. Soulsound Live en Blaq Pearl het die gaste vermaak met musiek en gedigte.

Vir meer inligting, sien www.taalmonument.co.za